On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse munisipaliteite se waterskuld bedreig watersekerheid

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:36 Mon, 16 Sep 2024

Vrystaatse munisipaliteite se waterskuld bedreig watersekerheid | News Article
Foto: iStock

“Toenemend ernstige uitdagings met watervoorsiening is dié munisipaliteite se voorland.”

Die uitstaande bedrae wat vyf Vrystaatse munisipaliteite aan Vaal-Sentraal-waterraad skuld, stel watersekerheid in dié provinsie in gevaar. 

So sê VF Plus-wetgewerlid Armand Cloete oor die R10 miljard wat volgens Vaal-Sentraal binnekort kontantvloeiprobleme sal veroorsaak.

“Die waterraad het op ’n portefeuljekomiteevergadering van die Vrystaatse wetgewer se komitee oor samewerkende regering en tradisionele Sake berig dat die toenemende skuld van sukkelende munisipaliteite na verwagting in die nabye toekoms tot ernstige kontantvloeiprobleme sal lei.”

Vaal-Sentraal-waterraad is in 2022 gestig deur die samesmelting van Bloemwater en die insolvente Sedibeng-water.

Armand Cloete. Foto: X

Volgens Cloete skuld Matjhabeng-munisipaliteit op die Goudveld, wat onder meer Welkom, Odendaalsrus en Virginia bedien, die waterraad R6,9 miljard. Dit is R2,1 miljard meer as tydens die samesmelting.

Cloete sê Kopanong-munisipaliteit in die Suid-Vrystaat se bydrae tot die skuld beloop R768 miljoen. “Gevolglik word die watertoevoer aan inwoners beperk tot 30%.

“Mangaung-metro en die plaaslike munisipaliteite Nala (Wesselsbron en Bothaville) en Mantsopa (Ladybrand, Excelsior en Tweespruit) skuld die waterraad onderskeidelik R921 miljoen, R404 miljoen en R3,7 miljoen.”

Cloete sê toenemend ernstige uitdagings met watervoorsiening is dié munisipaliteite se voorland. Die VF Plus het egter uit die staanspoor gewaarsku dat die samesmelting nie die waterraad se skuldprobleem sou oplos nie.

Pemmy Majodina. Foto: X

Hoewel Pemmy Majodina, die nuwe minister van water en sanitasie, verlede maand met belanghebbendes beraadslaag het, is daar geen doeltreffende plan beraam om die krisis af te weer nie. “Die realiteit is dat die staat homself steeds geld skuld,” sê Cloete.

“’n Drastiese ingryping is nodig om agterstallige skuld van Matjhabeng, Nala en Kopanong te verhaal, aangesien hul wanbetaling die watertoevoer na ander munisipaliteite bedreig.”

Die VF Plus sal met vrae druk uitoefen op die minister om haar plan vir die versekering van volhoubare watervoorsiening in hierdie munisipaliteite duidelik te maak.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.