On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Ál meer MIV onder Noordwes-jeug wek kommer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:32 Tue, 10 Sep 2024

Ál meer MIV onder Noordwes-jeug wek kommer | News Article
Foto: iStock

“Die voorkoms onder adolessente van 15 tot 19 jaar het van 3,2% in 2017 tot 4,5% in 2022 toegeneem, wat voortdurende infeksies in hierdie groep weerspieël.”

Toenemende MIV-infeksies onder die jeug van Noordwes wek groot kommer.

Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het Maandag (9/9) die sesde Suid-Afrikaanse MIV-opname vir Noordwes uitgereik. Die syfers daarin vervat, dié van 2022, is die jongste wat beskikbaar is.

In 2022 het die Platinumprovinsie die vyfde hoogste MIV-syfer in die land gehad toe 12,3% van sy inwoners na raming dié virus onder lede gehad het. Maar meer as ’n vyfde van almal tussen 25 en 49 jaar was MIV-positief.

‘Die voorkoms verskil opmerklik tussen vroue en mans’

Altesaam 20,8% van inwoners tussen 25 en 49 jaar het die virus, maar die voorkoms verskil opmerklik tussen vroue (29%) en mans (4%).

Onder adolessente en jeugdiges was die MIV-voorkoms 2,5 keer hoër by vroue (8,3%) as by mans (3,3%), sê prof. Khangelani Zuma, die hoofondersoeker.

In hulle opname is vasgestel MIV-voorkoms het in 2022 ’n hoogtepunt van 31,4% in die 40-tot-44-ouderdomsgroep bereik het. Vyf jaar gelede was die hoogste voorkoms (36,8%) onder 45- tot 49-jariges.

Foto ter illustrasie: iStock

Volgens Zuma was daar ’n afname in MIV-voorkoms onder diegene van 30 tot 39 en 40 tot 49 in 2022.

“Die situasie onder adolessente en jeugdiges bly egter kommerwekkend. Die voorkoms onder adolessente van 15 tot 19 jaar het van 3,2% in 2017 tot 4,5% in 2022 toegeneem, wat voortdurende infeksies in hierdie groep weerspieël.”

Die data, wat toegespits is op drie prioriteitsdistrikte – Bojanala, Dr. Kenneth Kaunda en Ngaka Modiri Molema – toon MIV-voorkoms is die hoogste in Bojanala (15,4%), gevolg deur Ngaka Modiri Molema (12,1%) en Dr. Kenneth Kaunda (11,9%).

Foto ter illustrasie: iStock

Zuma sê antiretrovirale behandeling (ARB) in Noordwes het van 2017 tot 2022 van 60,7% tot 78,9% gestyg, wat beteken dat ongeveer 324 000 mense wat met MIV leef in laasgenoemde jaar behandeling ontvang het.

“ART-gebruik was 76,1% onder diegene tussen die ouderdomme van 15 tot 49 jaar; 81,8% dekking vir vroue en 63,0% vir mans. Stedelike gebiede het 73,8% ART-gebruik gehad, terwyl informele en formele gebiede op die platteland 85% of meer gehad het,” sê Zuma

Zuma het kommer uitgespreek dat amper 70% van mense tussen 25 en 49 jaar met MIV in Noordwes onbewus is van hul status. Ongeveer 70% van diegene wat bewus is van hul status, gebruik nie ARB nie.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.