On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Enorme skade ná brand by Bethlehem-lugskou

───   MORNÉ VAN ROOYEN 19:24 Sat, 07 Sep 2024

Enorme skade ná brand by Bethlehem-lugskou | News Article
Dis nog nie bekend hoeveel voertuie in die slag gebly het nie. Foto verskaf

“Ondanks waarskuwings oor gebrekkige rampbestuur en die tekort aan brandtoerusting het die voertuie reeds tot as verbrand teen die tyd dat die brandweer opgedaag het.”

Die oorsaak van die brand waarin talle voertuie by Bethlehem se lugskou in die slag gebly het, word nog ondersoek.

Dihlabeng-munisipaliteit sê in ’n kort verklaring hy het “’n hartseer gebeurtenis beleef wat amper ’n andersins perfekte geleentheid bederf het. Talle motors is in die brand beskadig.” ’n Meer gedetailleerde verklaring word beloof “sodra al die feite ingewin is”.

Derduisende rande se skade is aangerig. Foto: Facebook

Die brand het vroeg Saterdagmiddag (7/9) ontstaan in die parkeergebied by die gewilde jaarlikse geleentheid op Bethlehem. Sosialemediagebruikers bespiegel kole het opgespat van braaivleisvure daar naby en die droë gras laat vlam vat, maar dit moet nog bevestig word. Die SA Nasionale Weermag, polisie en plaaslike boere het die vlamme help blus.

Luidens aanvanklike berigte het 13 voertuie in die slag gebly, maar die getal is waarskynlik veel hoër, selfs meer as 30. Ooggetuies het gesê die vlamme het blitsvinnig deur die droë gras versprei en groot skade aangerig.

“So, sterk wind en ’n vleisbraai in ’n parkeergebied werk nie lekker saam nie,” skryf Brian Emmenis, lugvaartkundige, op Facebook. “Duisende mense het vandag na die Bethlehemse Lugskou gestroom. Die organiseerder het alles uitgehaal om te sorg dat alles perfek is.

Die brand het vinnig versprei en reuseskade aangerig. Foto: Facebook

“Die enorme parkeergebied is lank vooraf gebrand. Maar die probleem het ontstaan toe talle mense oraloor begin parkeer het, van wie baie in ’n gedeelte wat nie gebrand is nie. Ouens het gebraai toe die sterk wind oorwaai. Die vlamme het blitsig versprei.”

Hy sê brandbestryders moes vinnig ingryp om die wegholbrand te probeer keer. Die digte rook het dit onmoontlik vir vlieëniers gemaak om die grond te sien en die skou is afgelas, skryf Emmenis. “Ons as openbare aankondigers moes bontstaan om die groot skare op die hoogte te hou.”

Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier, en Charl Kalamer, Thabo Mofutsanyana-distrikraadslid, het die ramptoneel Saterdag agtermiddag besoek. Foto verskaf

“Ondanks waarskuwings oor gebrekkige rampbestuur en die tekort aan brandtoerusting het die voertuie reeds tot as verbrand teen die tyd dat die brandweer opgedaag,” sê Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier, nadat hy die toneel laatmiddag besoek het saam met Charl Kalamer, Thabo Mofutsanyana-distrikraadslid.

“Hierdie skade kon voorkom gewees het indien die munisipaliteit en die polisie effektiewe maatreëls ingestel het om brande te verhoed, veral met die groot aantal besoekers aan die lugskou. 

“Die gebrek aan polisieteenwoordigheid buite die terrein het toegelaat dat onbeheerde vure ontstaan het.” Hy skryf dit toe aan die owerheid se “voortdurende swak bestuur en gebrekkige beplanning in noodsituasies”.

OFM Nuus/Morné van Rooyen

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.