On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Vier van Duineveld geskors weens k-woord in TikTok-video

───   HEIDRÈ MALGAS 15:52 Thu, 05 Sep 2024

Vier van Duineveld geskors weens k-woord in TikTok-video | News Article
Die skool het al vier leerders summier vir sewe dae geskors nadat ’n rassistiese video viraal op sosiale media versprei het. Foto: Google© Streetview, Google Maps

“Die Hoërskool Duineveld het onmiddellik opgetree volgens sy gedragskode en al vier tydelik geskors.”

Die Hoërskool Duineveld op Upington het vier leerders tydelik geskors nadat ’n video wyd gedeel is waarin een van hulle die k-woord uiter teenoor ’n mede-TikTok-gebruiker. 

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement het intussen bevestig dat al vier leerders (tussen 17 en 18) in die TikTok-video, wat wyd en suid op sosiale media gedeel word met dikwels striemende kommentaar daarby, leerders van dié skool is.

Die skool het al vier leerders summier vir sewe dae geskors, hangende ouerlike toestemming, sê Brandon Geswindt, adjunk-koördineerder van die ANC-jeugliga in die ZFM-distrik, ná ’n vergadering Woensdag (4/9) met die skool.

Skermgreep van TikTok-video. Foto: TikTok

Die leerder se naam is bekend aan die liga sowel as aan die departement van onderwys, aangesien dit op die skerm vertoon word in die video.

“Die verhoor word beplan vir 17 September,” sê Geswindt, “en die skool moet binne drie dae ná die verhoor ’n aanbeveling aan die departement van onderwys maak oor watter stappe teen die leerders beplan word.”

Duineveld het onmiddellik opgetree volgens sy gedragskode en die leerders geskors. Die video se inhoud is in skrille kontras met wat by die skool geleer word. “Dit het mense landwyd geskok,” sê Geoffrey van der Merwe, onderwyswoordvoerder.

Brandon Geswindt, adjunk-koördineerder van die ANC-jeugliga in die ZFM-distrik. Foto: Facebook

Hy herinner ouers daaraan om ’n oog te hou oor hul kinders se sosialemediagebruik en seker te maak hulle tree verantwoordelik op.

“Rassisme het geen plek in ons skole en gemeenskappe nie. As aktiewe burgers … moet ons almal ons stem dik maak teen rassisme,” sê Van der Merwe.

Skermgreep van kommentaar op die video. Foto: Facebook

Die departement onderneem om die ontwikkelings by die skool fyn dop te hou en beloof om die nodige ondersteuning aan Duineveld te bied.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.