On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night Nadine
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Hertzogville al ses maande sonder water

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:47 Wed, 04 Sep 2024

Hertzogville al ses maande sonder water | News Article
Hertzogville se inwoners sukkel sonder water. Foto verskaf

"Dorpenaars help mekaar met water en vragmotors lewer daagliks water by skole en klinieke af, maar die boorgate is besig om op te droog."

Inwoners van Hertzogville in die Wes-Vrystaat worstel nou al ses maande met ’n ernstige watertekort ná ’n brand wat ’n waterpomp by die rivier beskadig het.

Onder meer die DA, AfriForum en regsverteenwoordigers het briewe aan die munisipaliteit gerig en klagtes is ook by die provinsiale regering ingedien, sê Johann Steenkamp, ’n DA-raadslid, want “wat hier gebeur, is baie kommerwekkend.

Boorgate droog op

“Sommige inwoners sit al ’n jaar sonder water. Ons het druk op die munisipaliteit toegepas en dreigemente gemaak. Ons is ingelig dat nuwe pompe glo hierdie week geïnstalleer sal word.”

Dorpenaars help mekaar met water en vragmotors lewer daagliks water by skole en klinieke af, “maar die boorgate is besig om op te droog”, sê Steenkamp.

Inwoners van Hertzogville is moedeloos oor die waterkrisis. Foto: Facebook

’n Jare lange inwoner, Tolla Faber, eienaar van die Rhinestone-restaurant, sê om enige sakeonderneming sonder water te bestuur is uitdagend. “Om ’n restaurant sonder water te bedryf, waar skottelgoed en vloere daagliks gewas moet word, is byna onmoontlik. Ek vervoer elke dag 200 L water na die restaurant, maar dis steeds onvoldoende.”

Faber help mede-inwoners deur water te verskaf, maar die situasie gaan vinnig agteruit omdat die pompe begin droog loop. “Ek gebruik my boorgat tuis om die restaurant te voorsien en by te staan waar ek kan, maar in die township is daar nie sulke hulpbronne nie.

“Ek vervoer ook daagliks 100 L water vanaf my boorgate na die huise van my drie werkers daar.” 

Inwoners kry water by watertenk in lee asblikke. Foto verskaf

Faber sê die waterkrisis het sedert Januarie drasties versleg. “Voorheen was waterbeskikbaarheid beperk tot een of twee uur per dag, maar nou is daar glad nie water nie. Soms stuur die munisipaliteit een of twee tenkwaens, maar die water wat voorsien word, is onvoldoende en hou minder as ’n uur.”

Dertien munisipale boorgate op die dorp is vervalle. “As die geld wat aan waterkontrakteurs toegeken is doeltreffend aangewend is kon minstens vyf boorgate met nuwe pompe en kabels toegerus gewees het.”

Sy oorlede skoonseun, Christo van Eeden, wat ’n ingenieur was en as subkontrakteur vir die munisipaliteit gewerk het, het glo voorheen voorgestel dat die munisipaliteit om sogenaamde subdamme langs die 40 km lange pad tussen Christiana en Hertzogville bou.

Inwoners moet toustaan vir water van die twee tenkwaens, maar die water hou selde langer as ’n uur. Foto verskaf

“Die idee was om water in hierdie subdamme te pomp voordat dit na die hoofstelsel oorgedra word, maar die munisipaliteit het nie geluister nie. Hy het ook die department van waterwese genader.”

Steenkamp vertel die 40 km lange pyplyn kan nie die druk hanteer nie en breek gereeld. Die afstand is te groot, en die pomp is oorlaai. Volgens Faber is die Tokologo-munisipaliteit op Boshof verantwoordelik vir die kwessie. Hoewel plaaslike amptenare op Hertzogville hul bes doen is hul pogings beperk.

AfriForum het Tokologo Vrydag (29/8) by die Menseregtekommissie verkla. Hulle het voorheen op 4 Julie ’n brief aan die munisipaliteit gestuur waarin hulle versoek word om dringend aandag te skenk aan die waterkrisis.

Waterwa bedien net sekere gebiede

“Die munisipaliteit versuim om basiese dienste aan Hertzogville se inwoners te verskaf,” sê JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland. “Mense word gedwing om alternatiewe waterbronne te vind, terwyl die munisipaliteit se watertrok net sekere areas van die dorp bedien.

“Nie almal het toegang tot boorgate nie en plaaslike boere kan nie meer bekostig om water aan die dorp te verskaf nie. Water is ’n basiese reg, en dit is onaanvaarbaar dat ’n gemeenskap dit vir so lank ontneem word.”

OFM Nuus het Tokologo-munisipaliteit om kommentaar genader. 

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.