On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night Nadine
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Skoolseun van Upington gebruik k-woord in video

───   HEIDRÈ MALGAS 12:11 Wed, 04 Sep 2024

Skoolseun van Upington gebruik k-woord in video | News Article

“Dit is onaanvaarbaar en as ’n departement het ons geen verdraagsaamheid teenoor rassisme nie.”

’n Herrie het losgebars oor ’n TikTok-video waarin ’n hoërskoolseun van Upington ’n onbekende sosialemediagebruiker die k-woord noem.

Die seun in die video is geïdentifiseer as ’n leerder aan die Hoërskool Duineveld volgens Brandon Geswindt, adjunkkoördineerder van die ANC-Jeugliga in die ZFM-streek, aan wie die seun se naam ook bekend is. Die seun kan ook gehoor word hoe hy ’n skeldnaam vir Amerikaanse swart mense gebruik.


“Die Noord-Kaapse onderwysdepartement veroordeel hierdie voorval ten sterkste en het die Hoërskool Duineveld aangesê om die nodige tugstappe te doen kragtens die skool se gedragskode,” sê Geoffrey van der Merwe, woordvoerder.

‘Dit is onaanvaarbaar’

“Ons doen ’n beroep op wetstoepassingsagentskappe om hierdie saak vinnig af te handel. Sulke voorvalle kniehalter die vordering wat ons as ’n reënboognasie die afgelope 30 jaar as demokrasie gemaak het. Dit is onaanvaarbaar en as ’n departement het ons geen verdraagsaamheid teenoor rassisme nie.”

Geswindt sê intussen in ’n verklaring dis met groot hartseer en teleurstelling “dat ons in hierdie tydperk steeds laakbare dade van rassisme in Suid-Afrika, in die algemeen, en veral op Upington waarneem”.

Die jeugliga “veroordeel hierdie rassediskriminasie en die onmenslike gebruik van die k-woord om mense van ’n ander ras te benoem as ’n internasionale onreg”.

‘Ons moet nooit verskoning probeer maak’

Die organisasie sê: “Ons moet nooit verskoning probeer maak vir ons vasbeslotenheid om hierdie nasie, ons gemeenskappe en die Suid-Afrikaanse samelewing in die geheel te suiwer van die skuim van rassiste en wit heerssugtiges wat steeds die land bewoon nie.”

Hy sê alle vorme van rassisme en vooroordeel moet “as ’n skande behandel word en benader word met die minagting wat dit verdien”.

Siphokazi Pappagai, ’n sosialemediagebruiker wat volgens haar Facebook-profiel ook in die Hoërskool Duineveld is, sê in die kommentaar onder die video wat op sosiale media versprei is: “Uit persoonlike ondervinding weet ek hoe dit toegesmeer word. Ek is net bly daar is bewyse van sy gedrag. Daar moet ’n duidelike voorbeeld van (hom) gemaak word.

“Hy dreig om te skiet. Duidelik is hierdie kind ’n gevaar vir die samelewing."

‘Is dit wat hy by die huis geleer word’

Ivan Klim wil weet: “Is dit wat hy by die huis geleer word? Hulle dink hulle is beter as ander mense. Die rassistiese aanmerking is geen grap nie; die (onderwysdepartement) moet optree in belang van menseregte wat geskend word deur ’n skolier.”

Nog twee seuns kan in die video gesien word, maar die seun wat nou onder skoot kom, is al wat iets sê.

OFM Nuus/Heidrè Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.