On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaat, Noord-Kaap het swakste vullisterreine

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:20 Tue, 13 Aug 2024

Vrystaat, Noord-Kaap het swakste vullisterreine | News Article
Die Vrystaat se vullisterreine is die swakste in die land. Foto: AfriForum

“Die situasie in die provinsie kan toegeskryf word aan die munisipaliteite se ernstige tekortkominge.”

Die Vrystaat het die sewende jaar agtervolgens nie ’n burgerregteorganisasie se vullisterrein-oudit geslaag nie.

Intussen voldoen sy buurprovinsie die Noord-Kaap die afgelope twee jaar nie aan die vereistes nie.

AfriForum het landwyd 189 stortingsterreine geouditeer om die toestand van munisipale en private stortingsterreine in Suid-Afrika te bepaal. Vanjaar het die Vrystaat weer die slegste van al die provinsies gevaar, sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo. Die Noord-Kaap is ook een van die swakste provinsies.

Sy verduidelik die jaarlikse oudit bepaal of vullisterreine die nodige omgewings-, gesondheids- en veiligheidsvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur nakom. “Om die oudit te slaag, moes ’n vullisterrein aan minstens 80% van die ouditvereistes voldoen het. Die oorgrote meerderheid (85,8%) van vullisterreine in die land kon egter nie vanjaar se oudit slaag nie.”

In die Vrystaat is altesaam 28stortingsterreine deur AfriForum besoek. “Hiervan is 27 formeel geouditeer en een terrein, naamlik Steynsrus, was te onveilig vir die ouditproses. Uit die 27 vullisterreine wat geouditeer is, het 15 aan 10% of minder van die ouditvereistes voldoen,” sê Van der Linden.

’n Noord-Kaap se vullisterrein. Foto: AfriForum

“Die situasie in die provinsie kan toegeskryf word aan die munisipaliteite se ernstige tekortkominge met betrekking tot hul stelsels vir afvalbestuur en die personeel wat hiervoor verantwoordelik is. Kleiner munisipaliteite gaan veral gebuk onder wanbestuur in dié afdeling. Dit blyk egter dat geen daadwerklike stappe gedoen word om die tekortkominge aan te spreek nie.”

Volgens Van der Linden voldoen geen van die 22 Noord-Kaapse vullisterreine aan die minimum (80%) wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur nie.

“Dit gaan so beroerd in hierdie provinsie dat Britstown, De Aar, Delportshoop, Douglas, Hanover, Keimoes en Strydenburg se vullisterrein aan geen van die ouditvereistes voldoen het nie. Slegs Orania se vullisterrein het amper die paal gehaal (76%-nakoming).”

Nog ’n vullisterrein in die Noord-Kaap. Foto: AfriForum

Van der Linden sê die meeste vullisterreine in die Noord-Kaap verkeer in ’n haglike toestand. Dit kan grotendeels toegeskryf kan word aan die tekort aan personeel en basiese infrastruktuur by die terreine.

Benewens ernstige stelsel- en personeeltekortkominge, word geen geld aan die vullisterreine bestee nie, hoewel daar ’n begroting daarvoor is. “Die kleiner munisipaliteite gaan veral gebuk onder wanbestuur in dié afdeling. 

“Dit blyk egter dat geen daadwerklike stappe gedoen word om die tekortkominge aan te spreek nie,” sê Van der Linden.

Volgens Alta Pretorius, Christa Ikking en Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerders vir die Vrystaat, is dit duidelik dat die meeste vullisterreine in die Vrystaat gebuk gaan onder wanbestuur, wat daartoe lei dat die meerderheid van terreine in ’n haglike toestand is.

“ ’n Algemene probleem wat AfriForum tydens die oudit opgemerk het, is dat daar geen beheer oor die bestuur van vullisterreine is nie,” sê hulle in ’n verklaring. “Dit is ’n groot rede tot kommer, aangesien die betrokke munisipale amptenare nie deur die provinsiale of nasionale regering tot verantwoording geroep word vir hierdie wanbestuur nie.”

Volgens Van der Linden beplan AfriForum reeds ’n vergadering met dr. Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO), om die vullisterreinouditverslag se bevindings met hom te deel en ’n formele ondersoek teen die Vrystaat en Noord-Kaap se nie-nakomende munisipaliteite te versoek.

AfriForum meen Suid-Afrikaners word van hul grondwetlike regte, soos die reg op ’n skoon en gesonde omgewing, ontsê deur swak vullisterreine; daarom sal die DBVO dringend munisipaliteite tot verantwoording moet roep, sê Van der Linden.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.