On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Overvaal-onderwyser vandag gegroet

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 06:00 Thu, 06 Mar 2025

Overvaal-onderwyser vandag gegroet | News Article
Stiaan Pistorius. Foto verskaf

’n Onderwyser van die Vaaldriehoek wat die afgelope naweek tuis dood aangetref is, word Donderdag (6/3) gegroet.

Stiaan Pistorius (27) is vermoedelik Saterdag (1/3) in die vroeë oggendure oorlede. Geen misdaad word vermoed nie.

“Dit is ongelooflik tragies. Dit was ’n groot skok vir ons,” sê Schalk Rabie, hoof van Hoërskool Overvaal in Vereeniging waar Pistorius die afgelope vyf jaar klas gegee het.

Foto: Facebook

Volgens Rabie het familielede van Pistorius, wat ook by die skool werk, op hom afgekom. 

“Pistorius was veronderstel om vroegoggend by die skool aan te meld om voor te berei vir ’n sportdag teen Hoërskool Sasolburg, maar hy het nooit opgedaag nie. Sy familie het bekommerd geraak en na sy huis gehaas, waar hulle hom gekry het.”

Rabie sê Pistorius se dood is traumaties vir leerders sowel die personeel. Niemand het dit sien kom nie.

‘Hy was reeds gekwalifiseer om eerstespanwedstryde te blaas’

Pistorius het landboustudies vir die gr. 8’s en 9’s gegee. Hy was aktief betrokke by die afrigting van rugby en het naam gemaak as skeidsregter, vertel Rabie.

“Hy is deur die Valke se skeidsregtervereniging geïdentifiseer as ’n jong opkomende skeidsregter en het pas met verdere kwalifikasies daarvoor begin. Hy was reeds gekwalifiseer om eerstespanwedstryde te blaas en sou waarskynlik nog in provinsiale wedstryde diens kon gedoen het.”

Versoeke is gerig dat die skool wel aangaan met sy beplande sportdag die afgelope naweek waar Pistorius Saterdagmiddag twee rugbywedstryde sou geblaas het.

Stiaan Pistorius. Foto: Facebook

Die skool het verskeie beraders laat kom om leerders en personeel by te staan.

Pistorius se begrafnisdiens sal Donderdag (6/3) om 14:00 vanuit die NG Kerk Falcon Ridge gehou word.

Enigiemand wat met emosionele probleme worstel, kan die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep se 24-uur-geestesgesondheidshulplyn by 0800 456 789 bel.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.