On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse babaseuntjie se lewe getuig van liefde, genade

───   KAREN VAN DER BERG 14:48 Wed, 05 Mar 2025

Vrystaatse babaseuntjie se lewe getuig van liefde, genade | News Article
Emile saam met sy tweelingboeties, van links LJ en Lihan. Foto verskaf

Klein Emile (16 maande) het soveel mense se hart aangeraak op sy lewenspad. Hy was werklik ’n getuie van wonderwerke en van God se liefde en genade.

So sê ’n hartseer Terblanché de Wet oor sy en sy vrou, Izelle, se babaseuntjie wat Saterdagoggend (1 Maart) gesterf het. Die ouerpaar van Bothaville en hul tweelingseuns, LJ en Lihan, is dankbaar teenoor die Hemelse Vader vir die tyd wat hulle saam met Emile gegun is.


“Ons hou vas in dit wete dat ons hom eendag weer in die Hemel gaan sien. Ons harte is seer, maar ons dank die Here vir sy lewe.”

Terblanché sê Emile was ’n vegter wat eenvoudig nooit moed opgegee het nie. Hy het sedert sy geboorte verskeie uitdagings met sy gesondheid gehad. Hy het byna nege maande van sy lewe in hospitale deurgebring. “Ons klein vegter het nooit moed opgegee nie.”

Klein Emile de Wet saam met sy ouers, Izelle en Terblanché, wat agter staan met Emile, en voor is die tweelingseuns, Lihan en LJ. Foto verskaf

“Hy het verskeie hartdefekte gehad en het verlede jaar ’n groot hartoperasie gehad.” Dit het ná die hartoperasie beter met hom gegaan.

Die hartoperasie is op 27 Julie in die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg uitgevoer. Sy hartkamers was onder meer erg onderontwikkel en hy het een hartklep te min gehad.


Die egpaar het nie van sy hartdefekte voor sy geboorte geweet nie. Emile is gebore op 14 Oktober 2023 op 31 weke, nege weke te vroeg. Hy was in sy kort lewe ook in Mediclinic Bloemfontein en die Life Ancron-hospitaal in Klerksdorp.

Terblanché sê Emile het verlede week begin siek raak en verkouesimptome gehad. Die simptome het al hoe erger geword. Hul seuntjie het aan vyf verskillende longinfeksies gesterf. Hy is in die R.H. Matjhabeng privaat hospitaal dood.

’n Gedenkdiens word vir klein Emile de Wet in die NG Kerk Meyerhof op Bothaville gehou. Foto verskaf

Vrydag om 14:00 word ’n gedenkdiens in die NG kerk Meyerhof op Bothaville vir Emile gehou wanneer ds. Laurie Naudé die diens sal lei. Emile is pas op 16 Februarie in dieselfde kerk gedoop.

Terblanché sê hulle is opreg dankbaar vir al die mense wat altyd vir Emile en hulle gesin gebid het en steeds vir hulle voorbidding doen.

Die gesin wil veral in besonder hulle drie dokters vir hulle bystand bedank: dr. Elri Wessels, hul huisdokter, prof. Danie Buys, die pediatriese kardioloog, en dr. Chris Diffenthal, die Bloemfonteinse pediater.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.