On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Inligting oor moord beperk weens vrees vir Kimberley-oorlewende se veiligheid

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:31 Sat, 03 Aug 2024

Inligting oor moord beperk weens vrees vir Kimberley-oorlewende se veiligheid | News Article
Jayson Afrique. Foto: Facebook

“Die slagoffer en sy vrou, Micayla (27), is omstreeks 21:00 in New Park, Kimberley, oorval toe ’n onbekende man na bewering nader gekom en verskeie skote in hul voertuig afgevuur het.”

Geen verdere inligting oor die eggenoot van die man wat Woensdag (31/7) in Kimberley vermoor is, sal bekend gemaak word nie.

Die besluit is geneem nadat Jayson Afrique (28) koelbloedig vermoor is, en geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie, sê lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder. 

Die slagoffer en sy vrou, Micayla (27), is omstreeks 21:00 in New Park, Kimberley, oorval toe ’n onbekende man na bewering nader gekom en verskeie skote in hul voertuig afgevuur het. “In dié stadium sal geen verdere inligting oor die vrou bekend gemaak word nie, omdat daar vir haar lewe gevrees word,” het Kock gesê.

Die egpaar was 18 maande getroud.

Jayson en sy vrou, Micayla. Foto: Facebook

Volgens Kock ondersoek die Kimberley SAPD se eenheid vir ernstige en gewelddadige misdaad die noodlottige skietery en ’n saak van moord en poging tot moord is geopen.

DJ Stacey, ’n bekende figuur op TikTok en oorspronklik van Kimberley, sê  Jayson het Micayla met sy liggaam beskerm en is nege keer gewond. “Wat ’n absolute hartseer dag vir Kimberley. ’n Sagmoedige siel het hierdie aarde verlaat. Toe ek hoor wat met hom gebeur het, was ek so ontsteld, kwaad en siek!

“My innige meegevoel met sy vrou, die Afrique-familie, uitgebreide familie. Jayson was so ’n goeie ou. Hy het altyd geglimlag of gespot. Hy het letterlik vir almal gegroet en altyd geglimlag,” lui haar inskrywing op Facebook.

‘Misdaad moet met die strengste straf gestraf word’

CBW Meganiese en Insleepdienste het ook hul medelye uitgespreek: “Dit is met diepe hartseer dat ons afskeid neem van ons vriend en kollega, Jayson Afrique. Sy teenwoordigheid en bydraes is opreg waardeer, en hy sal baie deur ons almal gemis word.

“Ons innige meegevoel gaan uit aan sy vrou en familie. Mag die Here gee julle krag en vertroosting gee in hierdie tyd van rou.”

DJ Stacey het Kimberley-inwoners en Suid-Afrikaners aangemoedig om die land terug in eie hande te neem en dit weer te beveilig. “Wet en orde moet seëvier! Dit is ons land, en ons moet veg vir ons mense. Daar is nie meer tyd om toegeeflik te wees nie. Misdaad moet met die strengste straf gestraf word!”

Jayson het ’n groot liefde vir motorfietse gehad. Foto: Facebook

Enigiemand wat inligting rakende die voorval kan verskaf, word aangemoedig om die ondersoekbeampte, AO Thabang Kamolane, te kontak by 082 302 0407, óf gedurende kantoorure by 053 838 4344.

Alle inligting sal vertroulik hanteer word, en polisieondersoeke duur voort.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cgmvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.