On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Welkomse laerskool braai groot vir gr. 2-leerder met kanker

───   HEIDRÈ MALGAS 15:38 Thu, 01 Aug 2024

Welkomse laerskool braai groot vir gr. 2-leerder met kanker | News Article
Welkom Volkskool het 9 700 worsbroodjies gebraai as deel van ’n geldinsameling vir Kaylin de Witt. Foto Facebook/Welkom Volkskool.

“Dis nie die eerste keer dat die skool duisende worsbroodjies maak nie; hulle het dit voorheen vir ’n ander dogtertjie gedoen.”

Welkom Volkskool het 9 700 worsbroodjies gebraai as deel van ’n geldinsameling vir ’n gr. 2-leerder by wie bloedkanker gediagnoseer is.

Dis nie die eerste keer dat die skool duisende worsbroodjies maak nie; hulle het dit voorheen vir ’n ander dogtertjie gedoen.

Toe hulle van klein Kaylin de Witt se diagnose hoor, sê Marisa Steyn, die skool se bemarkingsbestuurder, “het ons dadelik besluit om dieselfde idee te gebruik, aangesien dit die vorige keer ’n reusesukses was. Min het ons geweet dat dit hierdie keer meer as dubbel so suksesvol sou wees.”

Toe die worsbroodjies verkoop was, kon die leerlinge gewone klere aantrek. Foto: Facebook/Welkom Volkskool.

Bloedkanker is in Junie by Kaylin gediagnoseer.

Die hulp en ondersteuning was ongelooflik; mense van wyd en syd het bestellings geplaas en selfs gehelp met die voorbereidingswerk. “Ons gemeenskap weet hoe om saam te staan,” vertel Steyn.

Die skool is gereeld in kontak met Kaylin se ouers en bied soveel emosionele ondersteuning as moontlik. Die skool beplan nog geleenthede om geld vir Kaylin se behandeling in te samel, maar terselfdertyd wil hulle nie die gemeenskap finansieel uitput nie.

Die leerders het gehelp met die bestellings. Foto: Facebook/Welkom Volkskool.

Toe die worsbroodjies verkoop was, kon die leerlinge gewone klere aantrek en ook ’n worsbroodjie-combo teen R30 koop. Die leerders het gehelp om bestellings te kry om 9 700 te bereik.

Steyn sê die poging het die leerders en personeel emosioneel beïnvloed, “want soms besef ons nie hoe geseënd ons is nie. Die kinders besef net weer opnuut dat sekere dinge met ’n mens kan gebeur en daar is nie altyd antwoorde nie.

“Maar deur geloof sal ons sterker aan die ander kant uitkom. Die maatjies naby aan Kaylin word geraak in die proses, maar hulle is so lief vir haar en ondersteun haar regtig baie.

“Ons personeel oor die algemeen is regtig emosioneel geraak, en dit bring ons as ’n skoolgemeenskap net weer nader aan mekaar.”

Bloedkanker is in Junie by Kaylin gediagnoseer. Foto verskaf.

Daar was nie ’n teikenbedrag vir die verkoop van die worsbroodjies nie, maar die skool het wel beoog om minstens 4 800 van die hand te sit. “Ons was egter verbaas en geseënd met die verkoop van ongeveer 9 700 worsbroodjies.”

Die skool gaan probeer om op die hoogte te bly van Kaylin se toestand en gereeld met haar ouers te kommunikeer. “Ek glo dat die behoeftes in so ’n geval gereeld kan verander, en mens moet altyd voorbereid wees vir die onverwagte onkoste.

“Ons as skool is regtig geseënd met ouers, personeel en ’n gemeenskap wat altyd agter ons staan, en dus sal ons altyd bereid wees om te help waar ons kan.”

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.