On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Dodetal in taverneskietery in Noordwes styg tot 8

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:30 Sun, 28 Jul 2024

Dodetal in taverneskietery in Noordwes styg tot 8 | News Article
Die verdagtes het by die taverne aangekom en mense van Lesotho gesoek. Foto verskaf

“ ’n Tweede vrou, die agtste slagoffer, het aan haar wonde in die hospitaal beswyk en die verdagtes word steeds gesoek.”

Die dodetal in Saterdag se taverneskietery naby Orkney het tot agt gestyg.

Volgens brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het ’n tweede vrou, die agtste slagoffer, aan haar wonde in die hospitaal beswyk en word die verdagtes steeds gesoek.

OFM Nuus het vroeër berig dat sewe mense Saterdag in die vroeë oggendure by ’n taverne in Noordwes om die lewe gebring is.

Die slagoffers, ses mans en een vrou, is volgens Mokgwabone tydens ’n rooftog by die taverne, geleë in Uitbreiding 13, Kanana, naby Orkney buite Klerksdorp, doodgeskiet.

Die provinsiale polisiekommissaris van Noordwes, lt.genl. Sello Kwena, veroordeel die moord op hierdie individue ten sterkste.

“Die verdagtes het glo by Mdu se taverne aangekom op soek na mense van Lesotho en toe net op die mense losgebrand. Die eerste sewe slagoffers is op die toneel dood,” sê Mokgwabone. 

‘Motief vir moorde steeds onbekend’

Die verdagtes het die taverne se kringtelevisiestelsels, kontant en selfone van kliënte geroof voordat hulle van die toneel gevlug het.

Volgens Mokgwabone fynkam die polisie steeds die toneel en is die motief vir die moorde nog onbekend.

In Maart vanjaar is agt mense by ‘n taverne in Ladybrand geskiet en gewond.

Volgens Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het die polisie ’n oproep ontvang oor ’n skietvoorval in een van die tavernes in Manyatseng.

“ ’n Man (36) het na bewering met een van die beskermhere binne die taverne gestry en daarna na sy blyplek in Manyatseng gegaan, waar hy sy 9 mm-pistool gaan haal en na die taverne teruggekeer het.”

‘Die verdagte het na sy ouerhuis in Manyatseng gevlug’

Na wat verneem word, het die verdagte lukraak by die taverne begin skiet en agt mense gewond het. Die slagoffers, tussen 26 en 45 jaar oud, het ernstige beserings opgedoen, met twee wat in ’n kritieke toestand was.

Kareli het bevestig dat die verdagte, wat na sy ouerhuis in Manyatseng gevlug het, opgespoor en in hegtenis geneem is.

Die verdagte is van agt aanklagte, insluitend poging tot moord, aangekla. Daar is ook op sy vuurwapen beslag gelê.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cg 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.