On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

LUR sny onwettige verbindings by gesondheidsinstellings in Qwaqwa

───   KEKELETSO MOSEBETSI 09:55 Fri, 26 Jul 2024

LUR sny onwettige verbindings by gesondheidsinstellings in Qwaqwa | News Article
Free State Health MEC Monyatso Mahlatsi. Photo supplied

“Voorlopige pogings het reeds daartoe gelei dat waterlekkasies in die hospitaal gestop is, wat verantwoordelik was vir aansienlike waterverliese in die gebied.”

Die Vrystaatse Departement van Gesondheid gaan Vrydag (26/7) onwettige water- en kragverbindings by gesondheidsinstellings in Qwaqwa sny.

’n Pasiënt is na bewering onlangs in die Mofumahadi Manapo Mopeli-hospitaal oorlede weens ’n kragonderbreking. Die voorval het die ernstige uitdagings van water- en kragtekorte in die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit beklemtoon, wat gesondheidsdienste in en om Qwaqwa kniehalter.

LUR Monyatso Mahlatsi sal Vrydagoggend by die Manapo-streekhospitaal wees om ’n interregeringspoging te lei om die verwoestende gevolge van water- en kragonderbrekings te bekamp, sê Mondli Mvambi, gesondheidswoordvoerder. Dié onderbrekings laat pasiënte gestrand terwyl hospitale en klinieke sukkel om noodsaaklike dienste te lewer.

“LUR Mahlatsi sal Mandelamaand gebruik om onwettige waterverbindings, wat inmeng met betroubare watertoevoer na die reservoirs van die Manapo- en Elizabeth Ross-hospitaal, af te sluit,” sê Mvambi. “Voorlopige pogings het reeds daartoe gelei dat waterlekkasies in die hospitaal gestop is, wat verantwoordelik was vir aansienlike waterverliese in die gebied.”

Mvambi beklemtoon dat water en elektrisiteit lewensbelangrik is vir die bestuur van doeltreffende en volhoubare gehaltegesondheidsorg. ’n Reëling vir interregeringsverhoudinge help reeds om die gesondheidsinstellings te beskerm teen krag- en wateronderbrekings.

Eskom het in Mei vanjaar amptelik die kragvoorsiening na Maluti-a-Phofung oorgeneem om die uitdagings van voortdurende kragonderbrekings aan te spreek. Die munisipaliteit sukkel lank reeds met onwettige verbindings, swak infrastruktuur en toenemende skuld by Eskom. Dit het aansienlike druk op die kragnetwerk geplaas, terwyl huishoudings en ondernemings se onwettig kragverbindings die situasie net vererger.

Tydens ’n besoek die afgelope week het David Mahlobo, adjunkminister van water en sanitasie, belowe om die waterkrisis en infrastruktuuruitdagings in die gebied dringend die hoof te bied. Hy het ’n opgeknapte pompstasie by Bluegumbosch oorhandig, maar het klem gelê op die dringende probleem van gevandaliseerde stasies, wat watervoorsiening belemmer.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.