On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Eerste Barbie-pop vir blindes bekendgestel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:56 Thu, 25 Jul 2024

Eerste Barbie-pop vir blindes bekendgestel | News Article
Die blinde uitsaaier en gestremdheidsaktivis Lucy Edwards was die eerste persoon in die VK wat Mattel se nuwe speelding, Blind Barbie, ontmoet het. Foto: Daily Mail

“Die pop is uitgereik met ’n wit-en-rooi loopstok en sluit ’n stylvolle en funksionele sonbril in. Omdat sommige blinde of swaksiende persone sensitief vir lig is, bied dié lens bykomende oogbeskerming.”

’n Barbie-pop is Woensdag (24/7) vir blindes deur die speelgoedreus Mattel bekendgestel.

Ses dekades nadat die oorspronklike Barbie die rakke getref het, het Mattel sy eerste Barbie-pop vir blindes bekendgestel sodat kinders ’n pop kan hê waarmee hulle hulle kan vereenselwig en wat hulle kan inspireer, sê die speelgoedreus.

Die bekendstelling van die pop word ook deur die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging vir Blindes ondersteun.

Die nuwe pop verteenwoordig blinde en swaksiende kinders. Foto: Daily Mail

The Guardian berig die nuwe pop is ontwerp om blinde en swaksiende kinders te verteenwoordig, om te verseker dat hulle gesien en deel van die samelewing voel.

In samewerking met die American Foundation for the Blind (AFB) het Mattel die blinde Barbie noukeurig gemaak om die eienskappe van individue met blindheid en swak sig te weerspieël.

Die pop is uitgereik met ’n wit-en-rooi loopstok en sluit ’n stylvolle en funksionele sonbril in. Omdat sommige blinde of swaksiende persone sensitief vir lig is, bied dié lens bykomende oogbeskerming.

Die verpakking het ook braille op die boks. Foto: Daily Mail

Luidens die verklaring deur Mattel is die klere, ’n pienk satyn-T-hemp en ’n pers romp, van material gemaak wat ’n sensoriese ervaring bied. Die uitrusting is ook so ontwerp dat dit makliker aantrek. Die verpakking is ook met die woord “Barbie” in braille voorop die boks ontwerp.


Om ’n pop te skep wat toeganklik is en individue met sigverlies getrou uitbeeld, het Mattel saam met verskeie liefdadigheidsorganisasies gewerk, waaronder die AFB en die Koninklike Nasionale Instituut vir Blindes (RNIB).

“Barbie gaan alles oor vreugde – oor die ontdekking en begrip van die wêreld deur middel van spel – en dit is wonderlik om te dink dat kinders met ’n siggestremdheid nou met ’n Barbie kan speel wat soos hulle lyk,” sê Debbie Miller, direkteur van klanteadvies en -ondersteuning by die RNIB, in ’n verklaring aan CNN.

In 2019 het die reeks 35 poppe met verskillende velkleure gehad. Foto: Daily Mail

Lucy Edwards, ’n blinde gestremdheidsaktivis en uitsaaier wat in ’n veldtog saam met die nuwe Barbie verskyn, sê sy het as ’n tiener afgesonder gevoel toe sy haar sig verloor het. “Ek was verleë oor my kierie – maar om te weet dat Barbie ’n kierie het, sou my so anders oor myne laat voel het en my gehelp het om minder alleen te voel op my reis om my blindheid te aanvaar.”

Benewens die blinde Barbie het Mattel ’n vennootskap met Amerika se Nasionale Downsindroomvereniging aangegaan om sy eerste swart Barbie-pop met Downsindroom bekend te stel. ’n wit Barbie-pop met Downsindroom is verlede jaar bekendgestel.

’n Wit Barbie-pop met Downsindroom is verlede jaar bekendgestel. Foto: Daily Mail

Sedert 2009 het Mattel se Barbie Fashionistas-reeks uitgebrei om poppe met verskeie liggaamstipes, velkleure en fisieke vermoëns in te sluit. In 2019 het die reeks 176 poppe met nege verskillende liggaamstipes, 35 velkleure en 94 haarstyle gehad. 

Die versameling het ook poppe met ’n prostetiese been en ’n rolstoelgebruiker bekendgestel. In 2022 is die eerste dowe Barbie en ’n Ken-pop met vitiligo (’n siekte wat die verlies van velkleur in vlekke behels) bekendgestel.

Krista Berger, senior adjunkpresident van Barbie en globale hoof van poppe, het die belangrikheid van hierdie ontwikkeling beklemtoon: “Ons erken dat Barbie veel meer as net ’n pop is; sy verteenwoordig selfverwesenliking en kan ’n gevoel van erkenning skep.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.