On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Soldaat, kinders dood nadat hy hul ma aanrand, huis brand

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:19 Wed, 24 Jul 2024

Soldaat, kinders dood nadat hy hul ma aanrand, huis brand | News Article
Goitsemodimo Pampier, Zwaki Mdazuka en hul baba Molebogeng. Foto: Facebook

“Goitsemodimo Pampier het glo vir Nonzwakazi (Zwaki) Mdazuka (33), sy eksmeisie en die ma van sy kind, Maandag (22/7) sewe keer met ’n mes aangeval voordat hy hul huurhuis aan die brand gesteek het.”

’n Soldaat van Potchefstroom en twee kinders is dood nadat hy glo die huis aan die brand gesteek het waarin hulle gewoon het.

Goitsemodimo Pampier het glo vir Nonzwakazi (Zwaki) Mdazuka (33), sy eksmeisie en die ma van sy kind, Maandag (22/7) sewe keer met ’n mes aangeval voordat hy hul huurhuis aan die brand gesteek het, sê ao. Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Pampier het tydens die huisbrand gesterf, terwyl die twee kinders, Junior (7) en Molebogeng (2), wat aanvanklik uit die brandende huis gered is, met hul aankoms by die Pelonomi-streekhospitaal in Bloemfontein dood verklaar is, waarskynlik weens rookinaseming. Junior was Mdazuka se kind uit ’n vorige verhouding.


Mdazuka, wat by die departement van maatskaplike ontwikkeling in Bloemfontein werk, is ook in ’n kritieke toestand na die hospitaal gehaas. Sy het die voorval oorleef en is Dinsdag (23/7) ontslaan.

Volgens Kareli het Pampier (35) Maandag omstreeks 18:00 die huis in die Chris Hani-woonbuurt in Bloemfontein binnegegaan. Pampier het na bewering Mdazuka in sy motor agter die huis ingewag om van die werk af terug te keer.

‘Twee kinders na bewering vir hul veiligheid in kamer toegesluit’

“Met Mdazuka se aankoms by die huis het Pampier glo die huis binnegestorm. ’n Onderonsie het ontstaan waartydens Mdazuka sewe keer gesteek is – vyf keer in die bors en twee keer in die rug. Voordat die rusie begin het, het Mdazuka na bewering haar twee kinders vir hul veiligheid in ’n kamer toegesluit.”

Volgens Kareli het Mdazuka daarin geslaag om uit die huis te vlug waarna Pampier homself en die kinders in die huis toegesluit het. “Die soldaat het toe na bewering die huis aan die brand gesteek.”

Die Kopanong-polisie is na die toneel ontbied en ondersoek twee sake van moord en een saak van poging tot moord. ’n Lykskouing word gedoen, saam met ’n ondersoek om die oorsaak van die brand te bepaal.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.