Central SA
Olifant-eienaar aangekla van moord op werknemer─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:20 Thu, 06 Feb 2025
![Olifant-eienaar aangekla van moord op werknemer Olifant-eienaar aangekla van moord op werknemer | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/3821de72-3bce-46bc-8d4c-1a6df838cbf7.jpg?crop=0,15,758,441)
’n Vrou van ’n olifantpark in Mpumalanga sal weer Maandag (10/2) in die hof verskyn nadat sy na bewering ’n werknemer doodgesteek het teen wie sy glo ’n beskermingsbevel gehad het.
Sonell Joubert (45) – eienaar van Tswale, ’n olifant op die plaas Lowhills in die Onderberg-omgewing naby Malelane – het Dinsdag (4/2) in die Tonga-landdroshof verskyn op aanklag van moord, sê lt.kol. Jabu Ndubane, Mpumalanga-polisiewoordvoerder.
Joubert is Maandag (3/2) in hegtenis geneem in verband met die dood van Jurgens Nel (45), ’n werknemer van Lowhills Safaris. Nel se lyk is in sy kamer ontdek nadat hy meermale met ’n mes gesteek is, sê die polisie. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar.
Joubert en die vorige eienaar van die park, Johan Möller, het Nel blykbaar onlangs in diens geneem, berig Laevelder.
Volgens Ndubane was die polisie Maandag op pad na die plaas om Nel in hegtenis te neem op aanklag van die oortreding van ’n beskermingsbevel, wat Joubert enkele dae voor die voorval teen hom gekry het, toe hulle op Nel se liggaam afkom.
Blykbaar het Nel Sondag (2/2) sy lewe verloor in ’n gewelddadige woordewisseling met Joubert, wat beweer Nel het die beskermingsbevel verontagsaam en haar na bewering aangerand, sê Ngubane.
Jurgens Nel. Foto Facebook
“Sy het beweer Nel het haar beledig, ’n mes uitgepluk en probeer om haar te verwurg. Joubert het glo om hulp geskree en ’n ander plaaswerker, wat slegs as Colani geïdentifiseer is, genoop om in te gryp. Na bewering het Joubert en Colani toe vir Nel begin steek.”
Met die polisie se aankoms op die plaas het hulle Nel gevind waar hy op die vloer in sy kamer gelê het, met veelvuldige steekwonde aan sy bors en maag. “Hy het geen tekens van lewe getoon nie,” sê Ndubane.
Dringende bevel was teen Joubert
Die olifantbul Tswale het in Junie verlede jaar opslae gemaak toe die eienaars van die plaas, Shofeeds (Edms.) Bpk. op Parys, die hooggeregshof om ’n dringende bevel genader het om die dier van die plaas te laat verwyder.
Laevelder het destyds berig Tswale is toe al sowat twee jaar lank vir interaksie met mense gebruik. Shofeeds se aansoek om die dringende bevel was teen Joubert, Möller en die Conference and Management Solutions BK, wat almal sake op die plaas gedoen het.
Sonell Joubert is tans in aanhouding. Foto: Facebook
Die grondeienaar het aangevoer hy sou strafregtelik aanspreeklik gehou kon word as enigiemand seerkry of selfs doodgemaak word tydens hul interaksie met die olifant. Die aansoek is toegestaan, maar Joubert en Möller het die hofbevel verontagsaam om die dier binne sewe dae te verwyder en op 15 Augustus ’n appèlaansoek gebring.
Die appèlaansoek is van die rol geskrap omdat die aansoekers nie opgedaag het nie.
Blykbaar is die saak op Möller se versoek op die hofrol geplaas vir 20 Augustus, maar dis weer van die rol geskrap toe Joubert en Moller weer nie opgedaag het nie.