On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein-polisie vra rugbykykers moet items opeis

───   HEIDRÈ MALGAS 14:17 Tue, 23 Jul 2024

Bloemfontein-polisie vra rugbykykers moet items opeis  | News Article
Castle deck by die Toyota Stadium in Bloemfontein. Foto: Facebook/Cheetahs Rugby.

“Talle ondersteuners het waardevolle items verloor. Die polisie moedig enigiemand wat ’n selfoon verloor het aan om te kyk of dit by die Parkweg-polisiekantoor is.”

Die toetswedstryd tussen Portugal en die Springbokke het baie opwinding na die Rosestad gebring.

Talle ondersteuners het egter waardevolle items verloor, en die polisie moedig enigiemand wat ’n selfoon verloor het aan om te kyk of dit by die Parkweg-polisiekantoor is.

“Elf gevalle van selfoondiefstal is aangemeld, tesame met twee motorverwante misdade. Daarbenewens is daar baie verlore en gevonde items by die polisiekantoor ingedien,” sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

‘Niemand is nog in hegtenis geneem nie’

“Sommige items is teruggevind, maar daar is nog ’n paar wat mense by die polisiekantoor kan kom afhaal.”

Die polisie is hoofsaaklik verantwoordelik vir skarebeheer en voorvalle buite die stadion. “Geen arrestasies is gemaak rakende die aangemelde voorvalle nie.”

Die polisie gee wenke oor hoe om veilig te bly en op jou hoede te wees by sportwedstryde.

‘Moenie ooit jou drankie onbewaak los nie’

Volg hierdie wenke van die polisie as jy beplan om te drink:

• Moenie jou aan drank vergryp nie;

• Ken jou perke;

• As jy beplan om te drink, sorg dat jy veilig by die huis kom;

• Reël alternatiewe vervoer – ’n aangewese bestuurder, rydiens, huurmotor of openbare vervoer;

• Moenie kanse waag nie; bly eerder waar jy is, totdat jy nugter is, of reël alternatiewe vervoer;

• Moenie ooit jou drankie onbewaak los nie;

• Moenie drankies van vreemdelinge aanvaar nie, want hulle kan jou drankie dokter;

Selfs ná wat jy dalk dink ’n “klein drankie” is, kan jy oor die limiet wees. Moenie drink en bestuur nie. Kom eerder lewendig by jou bestemming aan.

‘Sluit liewer waardevolle items toe in die kattebak’

Volg hierdie wenke om jou voertuig veilig te parkeer:

• Vermy dit om jou voertuig te parkeer waar daar geen sekuriteit- of motorwagte is nie;

• Maak seker dat al die deure, vensters en die kattebak van jou voertuig toe en behoorlik gesluit is;

• Maak altyd jou vensters toe wanneer jy in die middestad bestuur;

• Moenie jou vensters oopmaak vir straathandelaars langs die pad of by kruisings nie;

• Hou die deure gesluit wanneer jy bestuur;

• Vermy dit om waardevolle items soos ’n handsak, aktetas, selfoon of skootrekenaartas duidelik sigbaar op die sitplekke te laat lê; sluit dit liewer toe in die kattebak;

• Raak vertroud met jou roete, voordat jy vertrek;

• Wees altyd waaksaam en kyk rondom jou. As jy iets verdag opmerk wanneer jy jou voertuig parkeer, rapporteer dit aan die sentrumbestuur of sekuriteit;

• Moet nooit jou waardevolle items sigbaar in jou voertuig hê nie;

• Vermy dit om waardevolle items, selfs los kleingeld, in jou voertuig te los waar ’n verbyganger dit kan sien. Wat jy sien, is nie noodwendig wat ’n dief sien nie: Jy sien ’n paar muntstukke – ’n dief sien ’n geleentheid. As jy waardevolle items in jou voertuig moet los, sluit dit in die kattebak toe, voordat jy by jou bestemming aankom;

• Sluit jou deure te alle tye, selfs terwyl jy bestuur, en maak seker al die vensters is toe wanneer jy jou voertuig verlaat; en

• Kyk rond. Wees bewus van jou omgewing, veral in parkeerterreine en by petrolstasies, en parkeer in goed beligte areas.

‘Bly altyd in ’n groep’

Sportgeleenthede vol mense met selfone maak dit makliker vir sakkerollers.

• Bly altyd in ’n groep, veral as jy alkohol gedrink het;

• Hou jou handsak of waardevolle besittings vas waar diewe dit nie kan sien nie;

• As jy na die kleedkamers stap, laat jou waardevolle besittings by iemand wat jy vertrou en neem net wat jy nodig het.

OFM Nuus/Heidré Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.