On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Polisie trek plaasrowers met gesteelde Audi in Ladybrand vas

───   ZENANDE MPAME 13:17 Sun, 07 Jul 2024

Polisie trek plaasrowers met gesteelde Audi in Ladybrand vas | News Article
Foto: SAPS

“Twee verdagtes is in hegtenis geneem terwyl die derde van die toneel gevlug het.”

Twee verdagtes word Maandag (8/7) in die Ladybrand-landdroshof verwag op 'n aanklag van huisroof.

Die verdagtes van 21 en 28 jaar is Sondag (7/7) in die vroeë oggendure in hegtenis geneem terwyl hulle met ’n Audi wat die vorige dag by ’n boer in die distrik gesteel is, rondgery het.

Lede van Ladybrand-polisie se misdaadvoorkomingseenheid het die gesteelde voertuig omstreeks 04:20 in die dorp opgemerk en die verdagtes agternagesit.

“Tydens die jaagtog het die voertuig in een van die strate in die dorp omgeslaan. Twee verdagtes is in hegtenis geneem terwyl die derde van die toneel gevlug het,” sê Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Boer, huiswerker deur gewapende mans oorval

“’n Boer van Ladybrand en sy bejaarde huiswerker is Saterdag (6/7) deur drie gewapende mans met klapmusse oorval, wat daarna met sy motor van die toneel gevlug het.”

Die drie verdagtes het glo ’n vuurwapen op die huiswerker gerig en só toegang tot die huis verkry. Hulle het daarna op die boer in die badkamer afgekom, hom glo ook met ’n vuurwapen gedreig en geld geëis.  Hulle het glo twee kluise deursoek, maar niks gekry nie, nie eers geld nie. Hulle het ander waardevolle items, insluitend die selfoon van die boer, gevat en met sy Audi van die toneel gevlug.

“Die boer se vrou, wat uit die provinsie was, kon Saterdag omstreeks 17:00 nie haar man in die hande kry nie en sy het 'n vriend gebel om te gaan kyk. Die polisie is omstreeks 23:00 in kennis gestel en die landelike veiligheidskoördineerder het plaaslike boere geaktiveer,” sê Mophiring.

Die bejaarde huiswerker is gevind maar die boer is reeds deur sy vriend na ’n plaaslike dokter geneem.

'Beduidende afname in plaasaanvalle'

“Daar is ’n beduidende afname in plaasaanvalle, van 339 in 2022 tot 296 in 2023,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder van gemeenskapsveiligheid. “Plaasmoorde het egter nie dieselfde beduidende afname in dieselfde tydperk getoon nie, aangesien daar net een minder moord was.”

“Die rede vir die afname in die aantal aanvalle is onbekend, maar die moontlikheid bestaan dat die veiligheidsmaatreëls wat deur landelike gemeenskappe toegepas word, plaasaanvallers afskrik. Dit kan egter bloot wees dat sommige aanvalle nie aangemeld is nie.”

OFM Nuus/Zenande Mpame

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.