On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaters en Noord-Kapenaars kan só veilig en warm bly in uiterste koue

───   ZENANDE MPAME 10:17 Sun, 07 Jul 2024

Vrystaters en Noord-Kapenaars kan só veilig en warm bly in uiterste koue | News Article
Foto: Wikimedia

“Sterk winde (30 tot 50 km/h) word Sondag oor groot dele van die land verwag.”

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het 'n weerwaarskuwing uitgereik vir 'n kouefront wat die land van Sondag (7/7) tot Dinsdag (9/7) sal tref.

Die koue toestande sal na verwagting Maandag (8/7) na Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap versprei.

Die SAWD voorspel dat die Vrystaat die koudste temperature sal ervaar, met temperature van tussen minus twee en minus ses grade naby die Lesotho-grens.

Hou altyd 'n brandblusser byderhand

Cherelle Ehlers, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, het die volgende wenke gedeel vir mense om veilig en warm in die koue te bly en te voorkom dat verhittingstoestelle 'n gevaar word: 

• Maak seker dat jy 'n brandblusser naby het.

• Laat 'n deur of venster gedeeltelik oop wanneer 'n verwarmer met brandstof gebruik word, om koolstofmonoksiedvergiftiging te voorkom.

• Moenie verwarmers naby klein kinders of troeteldiere plaas nie.

• Hou verwarmers weg van vlambare materiale.

• Inspekteer gastoestelle gereeld om seker te maak daar is geen lekkasies nie.

• Moet nooit nat of klam materiaal of klere op 'n elektriese verwarmer droog nie.

• Onthou om jou verwarmer af te skakel wanneer jy gaan slaap of die huis verlaat.

Foto: comparethemarket.com.au

'Moenie verwarmers sonder toesig laat nie'

Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-munisipaliteit, vra inwoners om versigtig te wees wanneer hulle verhittingstoestelle gebruik. “Moet onder geen omstandighede toestelle sonder toesig laat nie.”

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het 'n geel vlak vier-waarskuwing vir dele van die Noord-Kaap en Vrystaat aangekondig weens die kouefronte wat na verwagting tot Vrydag (12/7) sal duur.

Die waarskuwing is vir stormsterk winde wat paaie en vervoerdienste kan ontwrig en eiendom kan beskadig. Dit kan ook ’n impak hê op kwesbare kleinvee en oeste, voertuie met hoë kante soos busse en vragmotors asook informele nedersettings en tydelike strukture.

In geval van enige noodgeval kan inwoners die Mangaung-brandweer kontak by 051 406 6666 of 051 409 9600. Die tolvrye nommer is 107.

OFM Nuus/Zenande Mpame cvdw

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.