On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Central SA

Sneeu, sterk winde en bibberweer op pad na Sentraal-Suid-Afrika

───   ZENANDE MPAME 11:19 Sat, 06 Jul 2024

Sneeu, sterk winde en bibberweer op pad na Sentraal-Suid-Afrika | News Article
Sneeu bedek die Green Lantern Inn in Harrismith in die Vrystaat. Foto: Snow Report SA

“Die Vrystaat gaan die koudste temperature ervaar.”

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het 'n geel vlak vier-waarskuwing vir dele van die Noord-Kaap en Vrystaat aangekondig weens ’n kouefront wat na verwagting van Sondag (7/7) tot Vrydag (12/7) sal duur.

Die SAWD waarsku ook van uiters hoë brandgevare in die Khâi-Ma-munisipaliteit (Pofadder en omstreke) in die Noord-Kaap.

Die geel vlak vier-waarskuwing is vir skadelike winde wat paaie en reisdienste kan ontwrig en tot vallende bome in veral die Namakwa-distrik van die Noord-Kaap kan lei. Sterk winde kan ook skade aan eiendomme aanrig en rytoestande in die suidelike dele van beide die Noord-Kaap en Vrystaat bemoeilik.

Sneeu, koue kan lei tot verlies van kwesbare vee

“Wydverspreide sneeuval sal na verwagting vanaf Sondagmiddag (7/7) oor hoë dele in die suide van die Noord-Kaap voorkom, maar sal in die aand na die Oos-Kaapse berge versprei,” sê Hannelee Doubell, kommunikasiebestuurder van die SAWD.

“Ligte sneeuval kan selfs so ver as Prieska in die Noord-Kaap en Bloemfontein in die Vrystaat strek. Swaarder en meer ontwrigtende sneeuval 15 tot 30 cm kan tot die sluiting van paaie en bergpasse lei." Sy waarsku ook dat boere verlies van kwesbare vee verwag.

In Junie het sneeu op verskeie dele van die Oos-Kaap, Lesotho, die Vrystaat (rondom Clarens en Fouriesburg) en in die Noord-Kaap besoek afgelê. Bloemfonteiners het ook nie die koue, nat en winderige toestande vrygespring nie. 

News24 berig dat 'n reeks kouefronte in die komende week oor Suid-Afrika sal beweeg, wat na verwagting gedeeltelik bewolkte tot bewolkte toestande in sy nasleep laat.

Celeste Fourie, weervoorspeller van die SAWD, sê die kouefronte sal eerstens die Wes-Kaapse berge bereik en dan oor die uiterste suidelike dele van die Noord-Kaap beweeg.

“Die voorspelling is dat die Vrystaat die laagste temperature gaan ervaar, tussen minus twee en minus ses grade, veral naby die Lesotho-grens.”

“Sterk winde (30 tot 50 km/h) word Sondag oor groot dele van die land verwag, met vernietigende winde wat moontlik oor dele van die Kaapse provinsies en die sentrale binneland, insluitend die Vrystaat en Noordwes mag voorkom,” sê Doubell.

OFM Nuus/Zenande Mpame cvdw


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.