Central SA
Thys die Bosveldklong hierdie Dinsdag gegroet─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:45 Fri, 21 Jun 2024
“Sy gesondheid het teen einde April erg verswak nadat hy breinvliesontsteking opgedoen het en ’n beroerte gehad het.”
Vriende en naasbestaandes kry Dinsdag die geleentheid om van die grapjas-sanger afskeid te neem.
Thys Streicher, beter bekend as Thys die Bosveldklong, is Saterdagaand (15/6) oorlede nadat hy amper twee maande in die hoësorgeenheid van ’n Pretoriase hospitaal was. Hy sou Maandag (17/6) 50 jaar oud geword het.
’n Lewensviering sal Dinsdag (25/6) om 10:00 by die venue Batter Boys in die noorde van Pretoria gehou word.
Streicher het die afgelope vier en ’n halwe jaar ’n stryd teen ’n meedoënlose vyand gevoer: veelvuldige sklerose (MS).
Die siekte is vroeg in 2019 by hom gediagnoseer nadat hy vier jaar lank simptome ervaar het. MS is ’n chroniese outo-immuunsiekte wat die sentrale senuweestelsel aantas en lei tot ’n magdom uitdagings, soos moegheid, spierswakheid en beweeglikheidsprobleme.
Thys Streicher. Foto: Facebook
Hy was geruime tyd bedlêend weens die siekte, maar nadat dit by hom gediagnoseer is, het hy behandeling ondergaan wat hom beweegliker gemaak het. Sy gesondheid het teen einde April erg verswak nadat hy breinvliesontsteking opgedoen het en ’n beroerte gehad het.
Streicher se ma, Elize, het vroeër aan OFM Nuus vertel dat hy op 4 April in die waakeenheid opgeneem is weens ’n hoë koors en blaasontsteking. Hy het in die hospitaal breinvliesontsteking opgedoen en toe ’n beroerte gehad.
Op 6 Junie het LJ, Thys se medekunstenaar en vriend wat ook as woordvoerder vir die familie optree, bevestig dat Scheicher se toestand onveranderd is en hy steeds kritiek is.
Streicher was onder verdowing. Hy het ook ’n opening in sy keel gehad waardeur hy suurstof gekry het, en een van sy longe het platgeval.
Thys het in 1999 begin sing onder die verhoognaam Thys die Bosveldklong. Hy het ook humoristiese en prettige treffers uitgereik soos “In die middel”, “Vet pret”, “Ek hou nie van werk nie”, “Sy dra die broek”, “Jaloers Bokkie”, “Ou bobbejaan” en “Ek sal boertjie bly”. Hy het egter bekendheid verwerf nadat hy die medeaanbieder was van die gewilde TV-geselsprogram Maak ’n las.
Die begrafnis sal regstreeks uitgesaai word vir al sy ondersteuners. Die skakel is nog nie bekend nie.
OFM Nuus cg