Central SA
Kimberley spog met moderne brandweerwa─── CASEY-LEE ANTHONY 06:00 Wed, 19 Jun 2024
“Die radio het ingeboude GPS, Bluetooth en WAP.”
’n Splinternuwe brandweerwa is onlangs deur die Sol Plaatje-munisipaliteit onthul. Die brandweerwa wat byna R10 miljoen kos, beloof om die Kimberley-brandweer, asook die gemeenskappe by te staan wat deur veldbrande geraak word. Die Noord-Kaapse hoofstad moes tot dusver staatmaak op die dienste van ’n enkele brandweerwa.
Kimberley se moderne brandweerwa het unieke kenmerke. Foto verskaf
“Van die kenmerke is ’n kamerahoek van 360 grade wat in die donker en oorbeligte toestande kan werk, asook ‘n mikrofoon om met die publiek te praat. Dit is ook toegerus met al die nodige reddingstoerusting,” sê Thabo Mothibi, Sol Plaatje-woordvoerder.
Mothibi sê dit is ‘n belegging in gemeenskapsveiligheid en sal die reaksietyd op brande en nooddienste binne die stad verbeter.
Kagisho Sonyoni, burgemeester, het by die onthulling van die nuwe brandweerwa gesê hierdie vragmotor is toegerus met ’n ingeboude skuimstelsel wat gebruik word vir brandbestryding van vlambare vloeistowwe soos brande van olie-, petrol- en ander brandstofstortings. Die radio het ingeboude GPS, Bluetooth en WAP.
Lakesy Mofokeng en Kagisho Sonyoni op die trappe van die brandweerwa. Foto verskaf
Hierdie brandweerwa staan uit bo die res van die vloot en is vergelykbaar met die beste in die buiteland. Die munisipaliteit het seker gemaak dat aansienlike vorderings in spesifikasies ingesluit word.
OFM Nuus/Casey-Lee Anthony