On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Petisie begin vir SA mans se vrylating

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:04 Thu, 13 Jun 2024

Petisie begin vir SA mans se vrylating | News Article
Foto: 2Oceansvibe

“Hulle is tot twaalf jaar tronkstraf gevonnis, asook ’n boete van $5 miljoen elk, en nog ander boetes wat tussen hulle gedeel word.”

Twee Suid-Afrikaanse ingenieurs se gesinne het ’n nuwe veldtog van stapel gestuur om bystand vir hul vrylating te vra.

Frik Potgieter, van George in die Suid-Kaap, en Peter Huxham, van Langebaan aan die Weskus, bevind hulleself in haglike omstandighede in ’n tronk in Ekwatoriaal-Guinee, Sentraal-Afrika.

Op 9 Februarie 2023 het Potgieter en Huxham ingeteken by hul hotel in Malabo, Ekwatoriaal-Guinee, waarvandaan hulle die volgende oggend na Suid-Afrika sou vertrek, nadat hulle ’n vyf weke lange werkrotasie vir hul werkgewer, STC Offshore, voltooi het.

‘Daar is glo kokaïen in hul bagasie ontdek’

Hulle is egter daardie aand in hegtenis geneem toe daar glo kokaïen in hul bagasie ontdek is. Die mans hou vol dat hulle onskuldig is.

’n Verhoor het op 26 Junie 2023 plaasgevind, waarna albei drie dae later skuldig bevind is aan dwelmhandel. Hulle is tot twaalf jaar tronkstraf gevonnis, asook ’n boete van $5 miljoen elk, en nog ander boetes wat tussen hulle gedeel word.

Dié uitspraak was net twee dae nadat ’n Suid-Afrikaanse hof ’n strawwe straf aan Ekwatoriaal-Guinee se adjunkpresident, Teodoro Nguema Obiang, opgelê het, wat onder meer die beslaglegging op sy seiljag in die Kaapse hawe sou moontlik maak.

‘Honderde mense het reeds die petisie onderteken’

Hoewel hulle teen hul vonnis geappelleer het, het die owerheid geen verdere stappe ná die appèl gedoen nie.

Op die webtuiste change.org het honderde mense reeds die petisie onderteken vir Potgieter en Huxham se vrylating.

Francois Nigrini, woordvoerder van die twee families, glo dat die arrestasies daarop gemik is om Suid-Afrika te dwing om eiendomme wat met die adjunkpresident vereenselwig word, prys te gee.

‘Ongelukkig het vordering sedertdien stagneer’

Hy beklemtoon die belangrikheid van die veldtog om Potgieter en Huxham se vryheid te verseker. “Die veldtog het ten doel om bystand nie net van die Suid-Afrikaanse regering nie, maar ook van die Britse regering te verkry, aangesien Huxham dubbele burgerskap het.”

Nigrini sê hoop het opgevlam toe Naledi Pandor, Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking, op besoek aan Ekwatoriaal-Guinee vroeg in Mei onderhandel het vir hul vrylating, “maar ongelukkig het vordering sedertdien stagneer, wat die gesinne moedeloos laat voel het.”

Nog inligting is op die webtuiste freefrikandpeter.co.za beskikbaar.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.