On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Welkom: Menslike oorskot is dié van vermiste matriekmeisie

───   HEIDRÈ MALGAS 06:00 Fri, 07 Jun 2024

Welkom: Menslike oorskot is dié van vermiste matriekmeisie | News Article
Thato Tumahole. Foto verskaf

“Ná ’n deeglike ondersoek het die span verkoolde, menslike oorskot ondergronds gevind.”

Die kêrel van die gr. 12-leerder van die Welkom High School wat in Mei vermis geraak het, sal Vrydag (7/6) in die landdroshof in Welkom aansoek om borgtog doen. 

“Mamello Katleho Seape (22) staan tereg op aanklag van ontvoering en nou ook vir die moord op Thato Tumahole. Dit volg nadat die oorskot wat by ’n myn in Welkom gevind is, bevestig is dat dit Tumahole is,” sê Motantsi Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Die mynreddingspan, Welkom se honde-eenheid en ’n polisieondersoekspan is Woensdag (22/5) omstreeks 08:00 na die Old Shaft-myn van Harmony ontbied, sê Makhele. “Ná ’n deeglike ondersoek het die span verkoolde, menslike oorskot ondergronds gevind.”

‘Die kêrel is ná haar verdwyning in hegtenis geneem’

Tumahole is deur haar ma, Pulane, as vermis aangemeld toe sy op 10 Mei omstreeks 18:00 nie huis toe gekom het, nadat sy saam met twee maats gekuier het nie. Sy was egter nie saam met hulle nie en was ook nie by haar kêrel nie. Hy het net ná haar verdwyning gesê dat hy haar op die betrokke dag omstreeks 13:30 laas gesien het.

Die kêrel is Donderdag 16 Mei, ses dae ná haar verdwyning, in hegtenis geneem. Hy staan ook tereg op aanklagte van regsverydeling en die skending van menslike oorskot.

‘Nuus van jou afsterwe het my geskok’

Gerugte het sedert Maandag die rondte op sosiale media gedoen dat Tumahole dood is. “RIV, my liewe vriendin,” skryf Browns Hlehle, ’n vriend van haar. “Dit is met ’n swaar gemoed wat ek hierdie boodskap skryf. Die nuus van jou afsterwe het my geskok.

“Ek sukkel om dit te glo. Ek kan nie anders nie as om te dink aan die mooi herinneringe wat ons gedeel het en die vreugde wat ons in mekaar se lewe gebring het.”

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.