On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Tranquillo – ’n tuin in Bloemfontein met ’n veelkleurige palet

───   05:00 Mon, 10 Mar 2025

Tranquillo – ’n tuin in Bloemfontein met ’n veelkleurige palet | News Article
Chris en Andrea Crouse. Foto verskaf

Een van Bloemfontein se mees fyn afgeronde tuine sal Nasionale Tuinweek van 10 tot 16 Maart meer as waardig wees.

Die tuin en eiendom wat Tranquillo genoem word, na die Italiaanse musiekterm vir “rustig”, behoort aan Chris en Andrea Crouse in die woonbuurt Genl. De Wet. 

Chris is in tuinboukringe bekend as spreker en raadgewer. Hy is nie net uitmuntend as orrelis van die NG Gemeente Hugenoot in Bayswater nie, maar ook as tuinkunstenaar.

Foto verskaf

Dié liefde vir tuine kom van kindsbeen, vertel Chris. Sedert hulle in 1977 eienaars van Tranquillo geword het, was dit hulle droom om die tuin in iets buitengewoons te omskep.

Hulle het die tuin herbeplan met ’n klassieker styl van lang vloeiende grasperkkurwes, kleurryke blomme en ’n raamwerk van hoë plante soos bome en struike op die rand van die eiendom wat simbolies is van die raamwerk van ’n skildery. Blomplante met skakerings van pienk word van die ingang tot agterin die tuin gevind.

Foto verskaf

“Ons is baie lief vir kleur in die tuin en het gevind dat pienk ’n kalmerende uitwerking op die psige het,” vertel hy. “Wanneer ek praatjies by tuinbouklubs lewer, vestig ek altyd die luisteraars se aandag op die terapeutiese krag van die natuur. Ons tuin het vele vistas met afsonderlike tuinhoekies vir ontspanning.”

Tuinwerk saam is vir Chris en Andrea genotvol. Hulle tuinwerker vir drie dae per week is nou al goed opgelei en ’n groot hulp. Hulle is gelukkig om sandgrond op die erf te hê, wat tuinmaak en aanplanting vergemaklik. 

Nóg ’n groot pluspunt is die boorgat. Hulle dank die Vader elke dag vir die gawe van ondergrondse water.

Foto verskaf

Die tuin self is ’n weeldeparadys. Daar is sewe fonteine met kabbelende water naby sitplekke in skaduplekke, verskeie blaarstrukture soos groot blare, plante met puntige blare, klein ronde blaartjies …

’n Tuin hoef nie net groen te wees nie. Blaarkleur by Tranquillo is ook donkerrooi blare van die Prunus, Berberis, begonias en kannas. 

’n Randakker van vaal lamsoor skep kleurkontras met die groen grasperkkurwes. Die primêre kleur van Tranquillo se blomdraende plante is pienk, wit, blou en pers.

Foto verskaf

Plante vir warm klimaat

Die keuse van plante vir ’n bepaalde deel van die tuin is soms uitdagend. Oggend- en middagsongebiede in die warm Bloemfonteinse klimaat bepaal die keuse van plante.

Rose verlang minstens vyf uur son per dag en in groepering bied rose altyd finesse aan ’n tuin se vistas. Gunstelinge is pienk rose soos Duet, Simplicity, My Granny en Karoo. 

Agapante in verskillende hoogtes en kleure is altyd ’n wenner. Krismisrose verlang gefiltreerde sonlig of slegs vol son tot 09:30. 

Foto verskaf

Maanblom met sy groot trompetvormige kelke is ook ’n wenner in ’n warm klimaat. ’n Sonnige bedding met Kannas vang altyd die oog.

“Met ons aankoms by Tranquillo was die agtertuin vol vrugtebome. Ons het egter ander idees vir die agtertuin gehad. 

Foto verskaf

“Vandag is daar die swembad en ’n lowergroen klassieke agtertuin wat vir my en Andrea baie plesier verskaf. Ons het ook ’n verskeidenheid struike in die tuin,” sê Chris.

Die een hoek in Tranquillo se agtertuin is die rusplek van sewe katjies: Blommies, Fienie, Pokkie, Ginger, Karoolsie, Liefie en Skattebol. Dit is ’n hoek vol geure van katjiepiering, laventelbos, lemoenjasmyn en kanferfoelie wat met mekaar saamsmelt ter herinnering aan die katjies, elkeen met sy eie marmergrafsteen.

Foto verskaf

“In die skadu van die Chinese esdoring, waar krismisrose gedy, en die rustige kabbelende water van die fontein en die sitbankie vind ons rustigheid met ’n gedagte van soete mymering vir die vreugde wat hulle in ons lewe gebring het.”

Verskeie voerstasies vir die voëls is vir die egpaar belangrik. Soggens vroeg en laat middae word ’n wye verskeidenheid van voëlsoorte bederf met saadsoorte wat elkeen se voorkeure en smake pas. Groot en klein vind hulle gekose porsies.

Hadidas soek na die ryk bron van slakke in beddings en wurms op die grasperk. Duiwe, mossies, tiptolle, geelvinke, glasogies en nog vele ander sluit hulle ook by die feesmaal aan.

OFM Nuus/Susan Mare mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.