On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Alles wat jy moet weet van koors by kinders

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:51 Tue, 04 Jun 2024

Alles wat jy moet weet van koors by kinders | News Article
Foto iStock

Koors by kinders onder drie maande moenie deur die ouers behandel word nie – dis belangrik om so gou moontlik by ’n dokter uit te kom.

Hoewel koors ’n natuurlike manier vir die liggaam is om infeksie en ontsteking te beveg, is dit seker een van die dinge wat die meeste paniek by mammas veroorsaak.

Elke kind sal koors ervaar, maak nie saak hoe versigtig jy is nie, sê dr. Chantelle van der Bijl, ook bekend as Bloem MomDoc op sosiale media.

“Die algemeenste oorsaak van koors is chemikalieë bekend as sitokiene, wat deur die liggaam geproduseer word in reaksie op van ’n mikroörganisme (bakterieë of virusse), kwaadaardigheid (kanker) of ’n ander indringer. Kieme funksioneer nie goed in hoë temperature nie; so die liggaam se vegmeganisme hou hulle op ’n afstand,” verduidelik Van der Bijl.

Foto: iStock

Die liggaam is geneig om meer selle te maak wat moet veg wanneer indringers in die liggaam teenwoordig is en hierdie selle “vreet” eintlik die invallende organisme op. Die liggaam probeer om natuurlike teenliggaampies te produseer om die infeksie te beveg.

“Baie bakterieë is in ’n membraan ingesluit. Wanneer dit ontwrig of gebreek word, kan die inhoud wat ontsnap, giftig wees vir die liggaam en ook die temperatuur verhoog.”

Van der Bijl sê die algemeenste oorsaak van koors is ’n infeksie, hetsy viraal of bakteries.

“Koors kom nie altyd voor net weens infeksies nie. Sommige ander toestande, soos hitteberoerte, bloedoortappings, kankers en outo-immuunsiektes, kan ook koors veroorsaak.

“Hoewel tandekry ’n effense styging in liggaamstemperatuur kan veroorsaak, is dit waarskynlik nie die oorsaak as ’n kind se temperatuur bo 38°C is nie.”

Dit is egter ook normaal dat kinders ’n laegraadse koors ná inenting kry.

Foto: iStock

Volgens van der Bijl veroorsaak koors ’n ongemaklikheid by kinders soos hul temperatuur styg. “Die kind is dalk nie so aktief of spraaksaam soos gewoonlik nie. Hulle is meer geïrriteerd en nie regtig honger of dors nie.”

Sy moedig ouers aan om liewer kinders se temperatuur met ’n digitale termometer in die mond, rektum of onder die arm te meet omdat die veltemperatuur kan wissel na gelang van wat die kind gedoen het.

“Termometers wat op die voorkop of oor gebruik kan word, moet nooit by kinders onder ses maande gebruik word nie omdat die oorkanale te klein is.

‘Sommige kinders kan ook koorsaanvalle kry en dit is belangrik dat ’n hoë koors altyd behandel word’

“Die erns van ’n koors dui nie daarop dat iets gevaarlikers aan die gang is nie. Tog waarsku dit jou dat iets aan die gebeur is waarvoor jy moet uitkyk. Laegraadse koors is ’n temperatuur van 37,3–38,4 ºC, en hoëgraadse koors is ’n temperatuur van 38,5ºC en hoër.”

Sy sê nie alle koors hoef noodwendig behandel te word nie. “Koors wat kinders ongemaklik maak, moet behandel word. Die behandeling van jou kind se koors sal nie help dat die liggaam vinniger van die infeksie ontslae raak nie; dit sal net ongemak verlig wat met koors vereenselwig word.

Foto: iStock

“Sommige kinders kan ook koorsaanvalle kry en dit is belangrik dat ’n hoë koors altyd behandel word.”

Koors by kinders onder drie maande moenie deur die ouers behandel word nie – dis belangrik om so gou moontlik by ’n dokter uit te kom.

“As ’n baba slaap of speel en hulle het koors, moet hulle nie wakker maak of steur nie. As hulle ongemaklik was, sou hulle nie lekker geslaap of gespeel het nie. Behandel koors op grond van die kind se gemak.”

Ouers se eerste reaksie met koors is om vir kinders medikasie te gee, maar, sê Van der Bijl, daar is eers ’n paar ander goed om te doen.

Foto: iStock

• Verwyder oortollige klere aangesien dit liggaamshitte kan vasvang en die temperatuur kan laat styg.

• Moedig jou kind aan om baie vloeistof te drink.

• Sit jou kind in ’n lou bad, nie ’n koue bad nie, omdat dit die liggaamstemperatuur kan verhoog.

• Plaas koue waslappe oor areas van die liggaam waar die bloedvate naby die vel se oppervlak is, soos die voorkop, polse en lieste.

Indien dié metodes nie jou kind se temperatuur verlaag nie, dien ’n koorsmiddel soos parasetamol toe.

“As jou kind nie op die parasetamol reageer nie, gee ibuprofen as die kind ouer as ses maande is. Moet egter nie ibuprofen gee as die kind gevaar loop om te dehidreer of nie genoeg vloeistowwe ingeneem het nie, aangesien dit nierskade kan veroorsaak.”

Parasetamol en ibuprofen is ’n goeie kombinasie wat mekaar aanvul en die koors beter beveg. “Orale medikasie werk net so goed soos setpille. Setpille moet gebruik word wanneer jou kind niks binnehou nie.”

OMF Nuus/Charne van der Merwe

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.