On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Inspiration

Stadsjapies kies Louisvale in Noord-Kaap vir plaastroue

───   HEIDRÈ MALGAS 14:58 Mon, 20 May 2024

Stadsjapies kies Louisvale in Noord-Kaap vir plaastroue | News Article
Die plaaskinders het die egpaar met seepborrels verras. Foto verskaf

“Die plaaswerkers se kinders was die egpaar se hofknapies en blommemeisies.”

Plaaswerkers het ’n paartjie van Johannesburg gehelp om hul droomtroue op Louisvale in die Noord-Kaap ’n ware plaaservaring te maak, pleks van net ’n troue met ’n plaastema. JL van Heerden (25) en sy vrou, Samantha (24), het Dinsdag (14/5) afgehaak op JL se familieplaas in die omgewing van Upington waar plaaswerkers, wat saam met JL grootgeword het, deel van die gaste was.

Die plaaswerkers se kinders was die egpaar se hofknapies en blommemeisies. Die plaas waar hulle getrou het, behoort aan JL se oom Tubby van Heerden waar hy kleintyd lief geraak het vir die plaaslewe. “Ek het nie net baie by my oom geleer nie, maar ook by die plaaswerkers, wat soos my familie is,” sê hy.

Die egpaar is in ’n trekker vervoer. Foto verskaf

Die familie was aanvanklik nie baie gelukkig met die idee nie, omdat Johannesburg so ver van Upington is — meer as agt uur se ry — en ook omdat dit op ’n Dinsdag was. Maar hulle het uiteindelik gewoond geraak aan die idee en die paartjie ondersteun.

“As kind het ons plaas toe gegaan en altyd saam met Donkie, een van die plaaswerkers, en my broer visgevang in die plaasdam, op die trekker gery en gehelp met die oes. Dit was nie net lusern nie, maar ook rosyntjies,” sê hy.

Die paartjie se onvergeetlikste oomblik op die troue was toe die kinders vir hulle geskenke gegee het. Die geskenke was die “konfetti”. Dit was seepborrelgewere en oom Tubby moes aan hulle verduidelik hoe om dit te gebruik wanneer die pasgetroude paartjie met die paadjie afstap. 

Samantha en JL van Heerden wou nog altyd op die plaas trou. Foto verskaf

“Ons troukar sou twee donkies gewees het wat ons op ’n donkiekar trek, maar twee weke voor die tyd het een van die donkies in die Oranjerivier verdrink. Ons het toe ’n John Deere-trekker gebruik.”  

Hy sê dis nie maklik om ’n troue te beplan nie; enige troue is uitdagend, maar hulle het ’n kontrolelys gebruik om alles deeglik te beplan en seker te maak niks word vergeet nie. Elke keer as iets afgehandel is, het hulle die kontrolelys weer deurgegaan.

Die een tradisie wat hulle behou het en altyd spesiaal sal wees, is toe Samantha se pa saam met haar in die paadjie afgeloop het.

Samantha se pa het saam met haar by die paadjie afgeloop. Foto verskaf

“Ons inspirasie om die troue op die plaas te hou, was beslis om die natuur van die plaas te geniet en te waardeer – om te besef hoe mooi ’n plaas werklik is,” sê JL.

Dit was iets wat op hulle emmerskoplys was, en hulle het dit nou afgemerk.  Die plaaswerkers en al die mense wat by die troue was, is vir hulle ’n inspirasie. “Ons kan enige tyd op hulle staatmaak, maak nie saak wat nie, want hulle was daar vir ons op die belangrikste dag, ongeag hoe ver dit was of op watter dag van die week dit geval het.”

OFM Nuus/ Heidrè Malgas dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.