Central SA
ANC boos oor Sasolburg-bejaarde wat plakkaat beskadig – VIDEO’S─── KEKELETSO MOSEBETSI 09:58 Thu, 16 May 2024
“Die ANC laat hom nie afskrik deur sulke desperate dade van sabotasie nie en beskou dit as ’n teken van die party se krag en die vrees wat hy by sy teenstanders ingeboesem het.”
Die ANC in die Fezile Dabi-distrik van die Vrystaat neem sterk standpunt in teen wat hy beskou as ’n “blatante daad van sabotasie” teen sy verkiesingsveldtog.
Die voorval, opgeneem in ’n videogreep wat op sosialemediaplatforms versprei word, beeld ’n bejaarde vrou uit wat ’n ANC-verkiesingsplakkaat probeer verwyder wat teen ’n boom op Sasolburg aangebring is.
Toe ’n partyvrywilliger haar uitvra oor haar optrede, het sy laat hoor die ANC is “gemors” en weggeloop. ANC-beamptes en -ondersteuners is die hoenders in oor die beskadiging van hul plakkaat.
??WATCH??The ANC Fezile Dabi Region has filed a criminal complaint against a white woman who was recorded by ANC volunteers removing ANC campaign posters in Sasolburg on 14 May 2024. The party's acting secretary, Isaac Ngozo, has condemned the act. pic.twitter.com/SW5lpR6itU
— Central News (@centralnewsza) May 16, 2024
Sello Pietersen, streekswoordvoerder, het die vrou se optrede veroordeel en beklemtoon dat dit ’n kriminele oortreding is. Pietersen het die ANC se verbintenis tot die bevordering van ’n vreedsame atmosfeer vir ’n politieke veldtog herhaal en sê alle partye moet toegelaat word om deel te neem aan ’n regverdige verkiesing sonder inmenging.
“Ons kan bevestig ons is bewus van ’n video wat die ronde doen en wys hoe ’n bejaarde vrou besig is om met verkiesingsplakkate te peuter, ’n voorval wat na bewering in die omgewing van Sasolburg plaasgevind het.
“As gevolg daarvan is ’n saak ingevolge die Kieswet, wat die onwettige verwydering en skending verbied van plakkate wat deur ’n geregistreerde party aangebring is, by Sasolburg se polisie aanhangig gemaak,” sê Mantsi Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Hy beklemtoon die verwydering van verkiesingsplakkate is onwettig en kan as vandalisme of gepeuter met veldtogmateriaal beskou word. Die ondersoek duur voort, en nadat alle relevante verklarings verkry is, sal die saak aan die Direkteur van Openbare Vervolging voorgelê word, wat kan besluit of sy vervolg moet word of nie.
Pietersen het intussen herhaal die ANC word nie afgeskrik deur sulke desperate dade van sabotasie nie, en beskou dit as ’n teken van die party se krag en die vrees wat hy by sy politieke teenstanders inboesem.
Hy het die ANC se vasbeslotenheid herbevestig om ’n beslissende oorwinning in die komende verkiesing te behaal en partylede versoek om waaksaam te bly en enige gevalle van plakkaatverwydering of veldtoginmenging aan te meld.