On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Man van Kathu vermis; oom dood ná hulle gaan hengel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:30 Thu, 16 May 2024

Man van Kathu vermis; oom dood ná hulle gaan hengel | News Article
Pierre Lotter. Foto: Facebook

“Hulle het vermoedelik by Kids Rock visgevang nadat hulle dit die dag tevore ook gedoen het.”

’n Jong man van die Noord-Kaap word vermis en sy oom is dood nadat hulle by Bloubergstrand gaan hengel het.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Melkbosstrand is Dinsdag (14/5) om 19:30 deur bekommerde familielede van die twee mans, albei van Kathu, in kennis gestel dat hulle sowat ’n uur vantevore die laaste keer met hulle kontak gehad het.

Pieter Lotter en sy oom, wie se naam nie bekend is nie, het glo van die rotse by Bloubergstrand gehengel. Bemanningslede is na die gebied gestuur en die ouer man se liggaam is op die strand naby die Blue Peter-hotel gekry.

Paramedici van die NSRI het mediese behandeling toegepas, maar pogings om hom by te bring, het misluk en hy is dood verklaar, sê Hein Köhne, NSRI-stasiebevelvoerder. Die liggaam van die oorledene is vir ’n nadoodse ondersoek na die forensiese patologiedienste geneem.

Die soektog na Lotter en die drie worshonde duur voort.

“Die Table View-polisie, die polisie se duikeenheid, nooddienste, kuswagte, lewensredders en ’n hommeltuig-reddingseenheid het onder meer by die soektog na die vermiste man en honde aangesluit.

Pierre Lotter, wat tatoeëermerke aan die binnekant van sy arm het, het ten tye van sy verdwyning ’n roomkleurige hemp gedra. Foto: Facebook

“Hulle het vermoedelik by Kids Rock visgevang nadat hulle dit die dag tevore ook gedoen het,” sê Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder. “Ons glo hulle het die rots met laaggety bereik. 

“Met die inkomende hooggety, wat teen 20:30 gedraai het, is ons vermoede dat hulle iewers tussen 18:30 en 19:30 dalk probeer het om oor die kanaal te swem. Ondanks ’n omvattende lug-see-en-kussoektog is daar geen teken van die vermiste man en die honde nie.” 


Lotter, wat tatoes aan die binnekant van sy arm het, het ten tye van sy verdwyning ’n roomkleurige hemp gedra.

Enigeen met inligting wat die polisie kan help in die soektog na Lotter, kan die Table View-polisie bel by 021 521 3338, of die polisie se noodnommer by 10111.

Lotter se familie het privaatheid in hierdie moeilike tyd versoek.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.