Central SA
Vrystaatse deelnemer aan werklikheidsreeks sterf onverwags─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:57 Mon, 13 May 2024
“Haar toewyding aan en liefde vir haar familie was moontlik die eienskap van haar wat ek die meeste waardeer het.”
’n Vrystaatse vrou wat in 2022 aan die werklikheidsreeks Plaasjapie deelgeneem het, het die naweek in ’n motorongeluk gesterf.
Haar dogter, Chantell Victor, het die nuus Sondag in ’n plasing op ’n Plaasjapie-aanhangersblad op Facebook gedeel. Suzette van der Walt (56), was ’n deelnemer aan die eerste seisoen van dié kykNET-werklikheidsreeks waarin 20 stads- of dorpsjapies sonder boerdery- en plaaservaring weggevoer word na ’n plaas. Daar moet hulle ’n maand in ’n skuur leef en werk soos net ’n boer kan.
“Ons kosbaarste mamma is gisteraand oorlede. Bid asseblief vir ons familie. Ons is stukkend,” lui haar inskrywing.
Suzette van der Walt. Foto: DStv
Nina Swart, Plaasjapie se regisseur, het op die inskrywing gereageer en gesê dit was vir haar ’n voorreg om Suzette te leer ken en om saam met haar die uitdagings op die plaas in reeks een te trotseer.
“Sy was ’n formidabele vrou – sterk, vasberade en eerlik. Maar sy het ook ’n wonderlike sin vir humor gehad wat telkemale die lang, stowwerige dae vir almal rondom haar vergemaklik het.
“Haar toewyding aan en liefde vir haar familie was moontlik die eienskap van haar wat ek die meeste waardeer het. Sy het haar kinders áltyd eerste gestel, en was lief vir hulle met haar hele hart.
“Sy het haarself ook deurentyd met waardigheid gedra – tot op die einde van ons reis saam, waar sy besluit het om sélf van die plaas af te gaan.”
‘Suzette se opregtheid het ’n blywende indruk op almal gemaak’
Wilmer Müller, kykNET-woordvoerder, sê Suzette was gelief onder haar mededeelnemers, die produksiespan en kykers. “Haar deelname aan Plaasjapie was vir haar ’n verrykende ervaring, terwyl Suzette se opregtheid en sagte persoonlikheid ’n blywende indruk onder almal gemaak het. Ons dink aan Suzette se familie en geliefdes in hierdie tyd van verlies.”
Suzette het halfpad deur die reeks self besluit het om haar tas te pak en die plaas te verlaat. Sy het geglo dat haar ouderdom moontlik teen haar in dié kompetisie begin tel het.