On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Skenking van borsmelk red lewens

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:14 Mon, 22 Apr 2024

Skenking van borsmelk red lewens | News Article
Foto: bumpbaby.com

“Ná hul aanvanklike skenking kry ma’s die nodige koelbokse, bottels en gedetailleerde instruksies, om veilig voort te gaan om by te dra.”

Hoewel daar landwyd ’n groot tekort aan borsmelk by hospitale is, sukkel veral die Pelomoni-hospitaal in Bloemfontein en die Robert Sobukwe-hospitaal in Kimberley weens dié tekort.

“Borsmelk is nie net voeding nie – dit is van kardinale belang om die baba se immuunstelsel te versterk,” sê Stasa Jordan, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Borsmelkbank (SABR).

Sy sê borsmelk is die ideale eerste voeding vir pasgebore babas. Weens hul onderontwikkelde immuunstelsels vind babas baat by die teenliggaampies wat volop in borsmelk voorkom.


Borsmelk is baie belangrik vir babas se immuunstelsel. Foto: Esri.com

Die SABR vervul ’n deurslaggewende rol in die insameling, toetsing, pasteurisering en verspreiding van bevrore borsmelk van geskikte skenkers na neonatale hoësorgeenhede landwyd.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê dit is die eerste ses maande belangrik dat babas borsmelk kry vir noodsaaklike voedingstowwe. Borsvoedende ma’s word aangemoedig om melk te skenk om die kwesbaarste babas te ondersteun.

Skenkers word streng gekeur om die veiligheid en gehalte van hul melk te verseker en moet ’n gesonde leefstyl handhaaf. Jy sal nie kan skenk as jy rook, chroniese medikasie of dwelms gebruik nie, asook enige oordraagbare siekte het nie. 

Goedgekeurde skenkers word deur die proses gelei vanaf melkinsameling tot laboratoriumtoetsing vir MIV, hepatitis en sifilis. Mikrobiologiese assesserings word ook gedoen om die melk se suiwerheid te waarborg.

Borsmelk word getoets vir gehalte en suiwerheid. Foto: Esri.com

“Ná hul aanvanklike skenking kry ma’s die nodige koelbokse, bottels en gedetailleerde instruksies, om veilig voort te gaan om by te dra,” verduidelik Jordan. “Die instandhouding van die koueketting is van kardinale belang, terwyl dit van skenker na ontvanger beweeg.”

Vroeggebore babas, veral dié wat by geboorte minder as 1,8 kg weeg en jonger as 14 dae is, kry aansienlike voordele uit geskenkte borsmelk.

Die SABR se buitepasiënteprogram evalueer elke versoek noukeurig en prioritiseer dikwels babas met ernstige allergieë of mediese toestande wat borsmelk as ’n mediese ingryping noodsaak of gevalle waar ma’s weens mediese redes nie kan borsvoed nie. 

‘Die skenking van borsmelk word beskou as ’n goeie daad’

Jordan sê skenkers word nie finansieel vergoed nie, omdat borsmelk in Suid-Afrika as menslike weefsel geklassifiseer word. Die skenking van borsmelk word beskou as ’n goeie daad wat daarop gemik is om vroeggebore babas se lewe te red.

Jy kan aanlyn aansoek doen om ’n skenker te word. 

Lees meer: 

OFM Nuus/Charné van der Merwe dg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.