On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

CrossFit-span van Bloemfontein gereed vir Afrika-halfeindronde

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:53 Wed, 17 Apr 2024

CrossFit-span van Bloemfontein gereed vir Afrika-halfeindronde | News Article
Die span van CrossFit Resuelto: Johan Kruger, Karla van Staden, Robbie Heuer en Sherike van der Merwe. Foto verskaf

"Die CrossFit Resuelto-span het die sewende plek in die halfeindronde uit 30 spanne behaal."

’n CrossFit-span van Bloemfontein maak gereed om in die eersdaagse CrossFit-halfeindstryd teen spanne uit ander Afrika-lande mee te ding.

Die span van CrossFit Resuelto, ’n fiksheidsentrum wat al ’n dekade in Bloemfontein bestaan, is saamgestel uit vier atlete wat hul staal gaan wys. Robbie Heuer neem al tien jaar deel, Johan Kruger agt jaar, Karla van Staden vier jaar en Sherike van der Merwe twee jaar.

Die kompetisie, wat van 31 Mei tot 2 Junie by die Emerald Casino & Resort in Vanderbijlpark plaasvind, sluit krag, stamina, soepelheid en spoed in. Om vir hierdie byeenkoms te kwalifiseer, moes die span deur verskeie fases gaan. Eerstens was die wêreldwye CrossFit Ope, gevolg deur die kwarteindronde waar slegs die top 25% deurgedring het. Die CrossFit Resuelto-span het die sewende plek in die kwarteindronde uit 30 spanne behaal.

Karla van Staden. Foto verskaf

Die halfeindronde bestaan uit spanne van twee mans en twee vroue hoofsaaklik van  Suid-Afrika, maar daar is ook deelnemers van Egipte, Namibië en Zimbabwe. Die wenners van die Afrika-halfeindronde wen nie net ’n plek by die CrossFit-spele in Amerika nie, maar ook ’n prysgeld van $5 000. 

“CrossFit vereis ’n kombinasie van krag, fiksheid en spoed,” sê Heuer. “Daar is ’n variasie van oefening waarby ’n persoon betrokke kan raak, maar geen sport beklemtoon die belang van gemeenskap soos CrossFit nie.”

Robbie Heuer. Foto verskaf

As ’n voltydse veearts met ’n loopbaan wat hoë emosionele en fisieke eise aan haar stel, het CrossFit haar in staat gestel om swaar goed op te tel wat sy nooit voorheen kon doen nie. “Ek het ook deursettingsvermoë ontwikkel, wat ek 100% kan toepas in my daaglikse werk, daaglikse gewoontes en wersketiek,” sê Van der Merwe.

“Die CrossFit-halfeindronde is ’n ongelooflike geleentheid om deel van ’n span te wees. Nie net moet ek vir myself opdaag nie, maar ook vir my span, waar ek myself geestelik en fisiesk uitdaag. Ek wil ook graag ander beroepsvroue inspireer om wonderlike dinge buite die werkplek te doen!”

Sherike van der Merwe is ook ’n voltydse veearts. Foto: Facebook 

Sy sê dit klink seker na ’n cliché om dit te sê, maar CrossFit het haar lewe verander. “As meisie streef ’n mens altyd na een of ander ideale voorkoms wat altyd onrealisties en buite bereik is. CrossFit het my doelwit heeltemal verander.

“Ek streef glad nie meer na so ongesonde ideaal nie; inteendeel, nou streef ek eerder daarna om die volgende moeiliker beweging reg te kry, om fikser te raak en genoeg te eet om my liggaam werklik te voed,” sê Van Staden.

Robbie en Karen Heuer, die twee afrigters by CrossFit Resuelto, het haar vandat sy begin het gemotiveer en gedruk om goed te doen wat sy nooit gedink het sy in staat is om te doen nie. “Danksy hulle het ek vanjaar vir die tweede jaar gekwalifiseer vir die CrossFit-halfeindronde.”

 Johan Kruger. Foto verskaf

Om deur te dring na die finaal, is ’n droom waarvoor Kruger hard sal werk. “Vanjaar sien ek die meeste daarna uit om as ’n span deel te neem en nie individueel nie. CrossFit lei jou na ’n gemeenskap van mense in verskillende stadiums van hul lewe wat mekaar opbou en ondersteun.

“CrossFit help mens ook om te besef dat jou liggaam tot baie meer is staat is as wat jy gedink het. Ek sien uit na die halfeindronde en wat ons as span gaan bereik.”

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.