Central SA
Leeu Ruben herstel ná werk aan sy tande naby Winburg─── KAREN VAN DER BERG 15:04 Fri, 15 Mar 2024
“Ons is so opgewonde daaroor dat hy ’n maat gaan hê. Sy lewe het die laaste paar maande geweldig ten goede verander.”
Ruben is amper weer “katjie” van die baan, nadat hy enorme tandheelkundige werk ondergaan het. Drie van die Armeense leeu wat in die Vrystaat kom aftree het, se kiestande is deur wortelkanaalbehandeling gered, maar vier tande aan die een kant van sy bek moes getrek word.
Dit gaan goed met hom ná verlede week se prosedure, sê Karen Williams, direkteur van Animal Defenders International (ADI) se natuurreservaat naby Winburg.
Ruben het in Augustus diereliefhebbers landwyd se hart gesteel toe OFM Nuus berig het hoe die organisasie hom gered en na Suid-Afrika gebring het. Hy is tussen 15 en 17 jaar gelede in ’n private dieretuin in Armenië gebore.
Ruben tydens sy tandheelkundige behandeling. Foto: Facebook/ADI
Die eienaar van die dieretuin is sowat vyf jaar gelede oorlede, en die familie wou al die diere uit die dieretuin verwyder. Almal het ’n nuwe tuiste gevind, selfs al die leeus, behalwe Ruben. Hy het die afgelope vyf jaar alleen agtergebly. Die eensaamheid was só erg dat Ruben ophou brul het. Nadat hy in die Vrystaat kom woon het, het hy in Desember weer sy stem gevind.
‘Hy het vermoedelik aan metaal gekou’
“Toe ons hom destyds gered het, het ons geweet Ruben sou nog uitgebreide mediese hulp benodig soos werk aan sy tande,” sê Williams. Die tande wat getrek moes word, was erg versplinter.
Hy het iewers in aanhouding vermoedelik aan metaal gekou. Hy het ook nie die regte kos gekry nie; daarom was sy tande nie in ’n goeie toestand nie.
Ruben se lewe het baie verbeter sedert hy in die Vrystaat bly. Foto: Facebook/ADI
“Hulle sal weer aan sy tande moet werk, maar sy gestel moet eers sowat ses maande rus voordat hy weer narkose kan kry.” Hulle hoop hy kan nou pynloos leef.
“Ons is regtig verstom oor sy vordering. Hy loop baie sterk en val nie meer so baie om soos toe hy by ons gekom het nie,” sê Williams. Ruben is nou in ’n groter habitat en geniet dit terdeë. “Tot ons en sy verbasing het hy ook begin klim.”
Ruben gaan ook binnekort ’n maat kry. Foto: Facebook/ADI
Hy gaan ook binnekort ’n leeu in die habitat langs hom kry. “Ons is so opgewonde daaroor dat hy ’n maat gaan hê. Sy lewe het die laaste paar maande geweldig ten goede verander.”
Ruben bly vir hulle ’n inspirasie met sy sterk karakter, vertel Williams. Sy bedank almal vir hulle volgehoue ondersteuning. Enigeen wat iets vir hom of ander leeus in toekomstige reddingspogings wil skenk, kan die webtuiste ADI Wildlife Sanctuary besoek.