Central SA
Vrystaatse skilder gaan Afrika in New York verteenwoordig─── 15:25 Mon, 11 Mar 2024
“Dis ’n gevoel wat ek nie kan beskryf nie as ek terugkyk van waar ek as kunstenaar begin het – dit bring soms trane in my oë.
’n Skilder van Rouxville in die Suid-Vrystaat sal in Junie een van twee Suid-Afrikaners wees wat die vasteland in New York verteenwoordig.
Twee van Vuyisile Adoons se skilderye sal deel uitmaak van ’n groepsuitstalling in die Groot Appel. Hy sal sy werk saam met kunstenaars van Amerika, Europa en Indië ten toon stel.
Sy werk sal vir die hele maand vir die internasionale mark te sien wees. Die Rouxville-skilder sê aan die SAUK om ’n bekroonde kunstenaar te word is ’n droom vir elke persoon wat ’n verfkwas professioneel vashou.
Vuyisile Adoons se werk sal vir die hele maand vir die internasionale mark te sien wees. Foto: Facebook
Maar dat sy naam in internasionale kringe bekend word, is ’n werklikheid wat die kunstenaar nog moet verstaan. Hy sal twee skilderye maak onder die tema van Wêreldvrede, wat na New York verskeep sal word vir hierdie uitstalling.
“Ek is baie opgewonde oor hierdie uitstalling; dit is die beste nuus. Dit is ’n groepuitstalling wat bestaan uit internasionale kunstenaars van Europa, Suid-Afrika, Amerika, Pakistan en Indië,” verduidelik Adoons.
Adoons het in 2017 voltyds begin skilder nadat ’n draai in die kleinhandel misluk het. Hy beskou dit as ’n droom wat waar geword het.
“Dit is ’n wonderlike geleentheid, elke kunstenaar wil graag uitstal, of dit nou plaaslik of internasionaal is. Maar vir my, as iemand wat van ’n plek soos Rouxville kom – ’n baie klein dorpie in die Vrystaat – is dit ’n wonderlike geleentheid. En as sakeman en kunstenaar beteken dit dat wat ek in Rouxville doen, in terme van kuns en alles, ek met die res van die wêreld kan deel. Natuurlik gaan ek interaksie met ander kunstenaars hê en kultuur deel.”
Adoons het ook twaalf kunswerke wat in verskeie hotelle en lokale in die Krugerwildtuin vertoon word. Twee van Adoons se kunswerke is ook deel van ’n uitstalling by die Gorgeous Hotel in Kaapstad.
"Eerlikwaar, dit is ’n oorweldigende gevoel. Dis ’n gevoel wat ek nie kan beskryf nie as ek terugkyk van waar ek as kunstenaar begin het – dit bring soms trane in my oë. Omdat dit nie ’n maklike rit was nie, dit was op en af, so vir my voel dit onwerklik dat ’n droom waar geword het.”
Adoons, wat sy verfkwas gebruik om die eenvoudige lewe en die mense van sy klein dorpie uit te beeld, sê sulke geleenthede help om die waarde van sy werk te verhoog.
Waar hy skilderye vir R5 000 begin verkoop het, behaal hy nou tot R100 000 vir 'n skildery. Hy is ook geoormerk vir nog 'n uitstalling wat later vanjaar deur die Verenigde Nasies geborg word.
OFM Nuus cg/dg