Central SA
Bloemfontein-grondbesetting: Spanning is op Breekpunt - VIDEO's, FOTO's─── HEIDRÈ MALGAS 09:50 Tue, 05 Mar 2024
“Die metro het sy voete gesleep as ’n vertragingsmeganisme om permanensie aan die grondbesetting te gee.”
Die spanning wat die grondbesetting by Lourierpark in Bloemfontein veroorsaak, is op breekpunt met paaie wat versper word en gevegte wat plek-plek uitbreek.
Duisende mense dwaal in die strate rond en die woedende Lourierpark-inwoners raak ongeduldig oor hoe die polisie en die Mangaung Metromunisipaliteit die grondbesetting hanteer. Talle polisiebeamptes is ontplooi.
Die besetters wat hier huise oprig, sê hul onderskeie raadslede het hulle toestemming gegee om hierheen te trek.
Wat die sanitasie, water en elektrisiteit betref, noem die besetters dat hulle dit dag vir dag sal neem en oor die implikasies sal dink nadat hulle ingetrek het.
’n Man wat in Brandwag huur, het gevra waarom hy huur van R1500 sou betaal as hy verniet hier kan bly. Baie noem dat grond al is wat hulle wil hê.
Gevra vir wie hulle gaan stem, het byna almal uitdruklik gesê “definitief nié vir die ANC nie”, aangesien die party hulle grond en huise beloof het, maar die belofte nooit nagekom het nie.
Hardie Viviers, DA-koukusleier in Mangaung-metro, sê die DA, saam met ander belanghebbendes, doen stappe om die munisipaliteit en polisie te dwing om uitvoering te gee aan ’n hofbevel wat die stad bekom het om die onwettige besetting van munisipale grond in die Lourierpark-gebied stop te sit.
Hy sê die vertragings, wat veroorsaak het dat die munisipaliteit die onwettige grondbesetting nie kon stuit nie, word as onaanvaarbaar beskou. Die situasie noodsaak onmiddellike optrede. Burgemeester Gregory Nthatisi moet verantwoordelik gehou word vir sy ontoereikende reaksie op hierdie krisis, sê Viviers.
“Intussen neem die spanning toe terwyl dit duidelik is dat die betrokke munisipale grond geen basiese dienste bied nie.
Die polisie het rubberkoeëls afgevuur om woedende Lourierpark-inwoners te keer om grondbesetters aan te rand. Foto: Heidrè Malgas
“In plaas daarvan om mense toegang tot grond met dienste te gee, word hulle desperaatheid om behuising te verskaf uitgebuit deur toe te laat dat leë grond ingeval word sonder enige intensie of die finansiële middele om dienste soos water, sanitasie, stormwaterinfrastruktuur, elektrisiteit, toegangspaaie en straatligte te verskaf," het hy gesê.
Die grondbesetting het Saterdagoggend (2/3) begin en gelei tot groot areas grond langs die R706, van Lourierpark tot Pellissier, wat beset word.
Die area van die grondbesetting suid van Bloemfontein. Foto: Facebook
Die Mangaung-belastingbetalersvereniging is van mening dat, alhoewel die metro ’n voorlopige hofbevel teen die plakkers gekry het, dit nie veel beteken nie. “Die metro moet nou eers ’n verifikasieproses doen, wat insluit name, identiteitsnommers, gestremdhede en of die persone werkloos is of nie.
“Die grondbesettingswet bepaal dat indien die ‘shack’ opgerig is, hy nie meer verwyder kan word nie en verder het die agbare burgemeester ook verklaar dat indien die erf afgemerk is, sal aksie nie geneem word nie.
“Laasgenoemde is vreemd en kom nie in die wet voor nie. Die metro het sy voete gesleep as ’n vertragingsmeganisme om permanensie aan die grondbesetting te gee.”