On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteiner slaan internasionale fietsrykontrak los

───   ELSABÉ DE JAGER 12:00 Wed, 28 Feb 2024

Bloemfonteiner slaan internasionale fietsrykontrak los | News Article
Madelaine le Roux het driekamp vir fietsry verruil. Foto: Harry Powell, Zwift

"Ek het uiteindelik besef ek hoef nie te swem, fiets te ry én te hardloop nie!"

“Ek kom eintlik van ’n multi-sportagtergrond waar ek vir tien jaar driekamp gedoen het. Ek wou nie gehoor gee aan die raad om my op hoofsaaklik fietsry toe te spits nie, want, het ek gedink, dit gaan my nie besig genoeg hou nie!”

Madelaine le Roux (27) het toe inderdaad geluister na die goeie advies. Sy is verlede week uit 100 000 deelnemers aangewys as wenner van die Zwift Academy 2023-fietsrykompetisie se vroueafdeling.

Dié prestasie het vir die Bloemfonteiner ’n kontrak by Canyon-SRAM se ontwikkelingspan besorg. “Ek het uiteindelik besef ek hoef nie te swem, fiets te ry én te hardloop nie,” lag sy.

Haar ouers, De la Harpe en Corné, het Madelaine le Roux deurentyd ondersteun. Foto verskaf

Sedert 2022 was Madelaine nege maande per jaar gebaseer in Switserland. “Daar was ek deel van die fietryspan wat toegespits was op leiers van lande wat minder ontwikkel is in terme van fietsry en wat nie noodwendig oor al die geleenthede beskik wat ryers het wat reeds in Europa bly nie.”

Einde verlede jaar beleef Le Roux ’n groot laagtepunt. “You don’t have what it takes to make it in the sport,” was harde woorde, en sy het besluit om huiswaarts te keer.

“Ek moes die werklikheid in die oë kyk en het begin aansoek doen vir onderwysposte.” Haar hart het egter bly hunker na Europa en sy het aan die deur van die Zwift Academy gaan klop.

Madeleine le Roux luister na OFM selfs as sy fietsry. Foto: Harry Powell, Swift

Dit het spoedig duidelik geword dié Vrystater gaan nie in sak en as sit nie. “Terselfdertyd het ek ook ’n kans gewaag en aansoek gedoen om ’n beurs by The Cyclist Alliance. Groot was my verbasing toe ek dit kry.”

Die volgende uitkoms was ’n Franse fietryspan van Lyon wat haar die geleentheid gebied het om terug te keer na Europa.

Nadat Le Roux met haar terugkeer na Europa besluit het om haar bande met die Zwift Academy te breek, ontvang sy twee weke voor die sluitingsdatum van die Academy se kompetisie ’n uitnodiging vir deelname. “Dat ek die eindronde gehaal het, was vir my ’n Kersgeskenk en my uiteindelike oorwinning was vir my ’n verjaarsdaggeskenk,” sê sy.

‘Borskanker is twee jaar gelede by haar ma gediagnoseer’

Dié atleet en haar familie staan moedig saam in ’n hartseer tyd. Borskanker is twee jaar gelede by haar ma gediagnoseer. Corné le Roux (54) se toestand is kritiek. Madelaine se pa is ds. De La Harpe le Roux, uitvoerende hoof van die NG Kerk Vrystaat se Barmhartigheidsbediening.

Vir Madelaine bied die OFM-app groot troos teen verlange huis toe wanneer sy in Europa is. “Selfs terwyl ek fietsry daar ver, luister ek na OFM, want dit laat my voel ek is nog connected met die huis!”

OFM Nuus/Elsabé de Jager dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.