Central SA
Onwettige diamanthandelaar in Bloemfonteinse pandjieswinkel vasgetrek─── 11:43 Mon, 29 Jan 2024
“Daar is ontdek dat drie van die klippies egte diamante is, wat waarskynlik onlangs ontgin is.”
’n Man wat by ’n pandjieswinkel in ’n winkelsentrum in Heatherdaleweg, Bloemfontein, ingestap het met wat soos vyf edelstene gelyk het, is deur die Heidedal-polisie vasgetrek toe hy dit probeer verkoop het.
Hy het beweer dit is alles diamante. Volgens die polisie kon hy egter nie ’n lisensie toon om te bewys hy is geakkrediteer om die edelgesteentes te hanteer nie.
Die polisie het op ’n wenk gereageer, sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Ons het na die winkelsentrum in Heatherdaleweg gejaag en die 39-jarige man gevind wat probeer het om ongeslypte diamante te verkoop.”
Daar is ontdek dat drie van die klippies egte diamante is, wat waarskynlik onlangs ontgin is. ”Die ander twee klippies is vals.” Hy sê die man is summier in hegtenis geneem en in die Heidedal-polisiekantoor van die besit van onwettige diamante aangekla.
Die onwettige diamante wat deur die polisie in Bloemfontein ontdek is. Foto verskaf
Die verdagte is in polisieaanhouding en sal binnekort in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.
Onwettige mynbou is aan die toeneem in Suid-Afrika en het met die jare ’n uitdaging vir die land se wetstoepassingsagentskappe geword. Dit is teen die wet om onverwerkte edelmetaalerts, platinumgroepmetale, gouddraende erts of ongeslypte diamante in Suid-Afrika te hê sonder die nodige statutêre magtiging.
Volgens die Mineraleraad van Suid-Afrika bereik Suid-Afrika se diamantbedryf nog lank nie die einde van sy leeftyd nie. In 2022 het Suid-Afrika 10,2 miljoen t diamante ontgin. Die totale diamantverkope in 2022 was R27,7 miljard. Die bedryf dra dus by tot die ekonomie deur buitelandse valuta te verdien, werk te skep en belasting te betaal.
OFM Nuus cg/dg/mc