On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Verskuiwing van aasvoëls van Noordwes na Oos-Kaap grootste ter wêreld

───   11:42 Thu, 25 Jan 2024

Verskuiwing van aasvoëls van Noordwes na Oos-Kaap grootste ter wêreld | News Article
Die hokke word oopgemaak by die aasvoëls se nuwe tuiste. Foto verskaf

WeWild Africa maak dit sy missie om wilde diere soos aasvoëls ’n tweede kans op voortbestaan te gee.

Net meer as 160 aasvoëls is verskuif van die Hartbeespoortdam-omgewing in Noordwes na die Oos-Kaap, wat dit die grootste hervestiging van dié voëls ter wêreld maak. Witrug- en Kaapse aasvoëls kan nou hul vlerke sprei oor die private wildreservaat Shamwari, wat hul nuwe tuiste is.

Die hokke word oopgemaak by die aasvoëls se nuwe tuiste. Foto verskaf

Dereck Milburn, WeWild Africa-direkteur, ’n organisasie sonder winsbejag, sê die belangrikheid en rol wat aasvoëls in die natuur speel, word dikwels onderskat. Daarom maak dié organisasie dit sy missie om wilde diere soos aasvoëls ’n tweede kans op voortbestaan te gee.

Die vreugde was groot toe die aasvoëls hul vlerke begin sprei. Foto verskaf

Aasvoëlgetalle

“Daar is omtrent ses spesies aasvoëls waarop ons in die streek fokus. Wat die witkopaasvoëls betref, is daar sowat 80 tot 100 broeipare landwyd oor. Hulle broei ook baie stadig.

“Daar is omtrent 50 tot 100 broeipare van die kapaasvoëls oor; witrugaasvoëls – ongeveer 4 000 broeipare; Kaapse aasvoël, wat natuurlik die meer algemene spesie is, is daar nog net 4 500 broeipare oor en dan die baardaasvoël, wat jy in die Drakensburg-streke kry, is daar so 50 tot 100 broeipare oor,” deel Milburn.

Dit is die grootste hervestiging van dié voëls ter wêreld. Foto verskaf

Hy sê ’n groot uitdaging is dat wanneer groepe aasvoëls vergiftig word, tot 100 of 120 van die voëls op ’n slag kan vrek. “So, jy verloor ’n aansienlike deel van die bevolking elke keer as daar ’n vergiftiging is.”

Milburn vertrou dat die hervestiging van 163 aasvoëls werklik die aanvulling van hierdie bevolkings kan ondersteun om seker te maak dat die land wel ’n veilige bron en poel aasvoëls het wat in die natuur teruggestuur kan word te danke aan verantwoordelike teling in gevangenskap vir vrylating.

OFM Nuus/Elsabé Richard-May dg/cg

Luister na die onderhoud:

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.