Central SA
Seuntjie van Vanderbijlpark dalk gestrem ná amperverdrinking─── 16:40 Tue, 23 Jan 2024
“Sy ma het hom uit die water geruk en noodbehandeling toegepas. Hy het egter ’n breinstambesering opgedoen en sal moontlik serebraal gestremd wees.”
Die ouers ’n tweejarige seun, wat in Desember byna verdrink het en steeds in ’n koma is, vra hulp om hom te versorg wanneer hy uit die hospitaal ontslaan word.
Terwyl daar nog ’n lang pad van herstel op Auden Lamprecht wag, is sy ouers, Chanell Strydom en Jaques Lamprecht, se hospitaalplan nou uitgeput.
Vriende en familie het ’n geldinsameling op BackaBuddy vir hom begin. Volgens ’n inskrywing op dié blad word Auden al sedert 22 Desember in die Alberton Netcare-hospitaal versorg nadat hy in die swembad beland het.
Aiden en sy ma, Chanell Strydom, swem op 10 November verlede jaar. Foto: Facebook
Vaalweekblad berig sy ma het hom uit die water geruk en noodbehandeling toegepas. Hy het egter ’n breinstambesering opgedoen en sal moontlik serebraal gestremd wees. Die ouers slaap snags in hul motor om naby hom te wees en om te bespaar op die vervoerkoste tussen Vanderbijlpark en Alberton.
‘Ek weet jou lyfie is moeg’
Op 10 Januarie skryf Jaques op Facebook dat Auden nie meer onder verdowing is nie en ook nie meer aan die ventilator gekoppel is nie, en dat hy fisioterapie begin ontvang. “Hy is op sterk medikasie om hom gemaklik te hou. Boetie is nog nie wakker nie. Ons hou aan bid.”
Hy skryf ook: “Ek weet jou lyfie is moeg. Ek weet die fight is uitputtend. Wens ek kon jou plek inneem! Jy’s God se mooiste blom. ’n Engelkind!”
Aiden saam met sy pa, Jaques Lamprecht, in die hospitaal. Foto: Facebook
Die ouerpaar beplan om Auden, wanneer hy uit die hospitaal ontslaan word, tuis te versorg totdat hy na ’n rehabilitasiesentrum kan gaan. Geld wat ingesamel word sal dié uitgawes help dek, asook die uitstaande hospitaalkostes.
Mense wat graag wil bydra, kan Auden se BackaBuddy-blad hier besoek:
https://www.backabuddy.co.za/champion/project/auden-lamprecht-5817359056711185893, of ’n inbetaling maak aan die volgende spaarrekening: C. Strydom, Capitec, rekeningnommer: 1683221735.
OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg