Central SA
Matriekuitslae: Martie du Plessis-skool laat vreugdevure in Bloemfontein brand─── ELSABÉ DE JAGER 15:21 Tue, 23 Jan 2024
Vir die sewende keer binne agt jaar spog die skool met ’n slaagsyfer van 100%.
Die Martie du Plessis-skool in Bloemfontein se sukses word toegeskryf aan genade, al die harde werk van die leerders en ondersteuning van die ouers, terapeute en onderwysers.
Francois van Heerden, hoof van dié skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes, bars van trots wanneer hy oor die matriekklas van 2023 praat. Al 48 leerders het die Nasionale Senior Sertifikaateksamen suksesvol afgelê. Vir die sewende keer binne agt jaar spog die skool met ’n slaagsyfer van 100%. Wat hierdie prestasie lofwaardig maak, is dat hulle dieselfde eksamen as dié van die hoofstroomskole geskryf het.
Die treffende leuse van die skool beteken Na die lig. Foto: Facebook
Drie leerders – Brandon Joubert, Zuko Mnyameni en Izak van Heerden – is verlede week genooi na die prysuitdelingsfunksie van die Vrystaatse onderwysdepartement. Wat nog verder bygedra het tot die feesviering is dat Van Heerden aangewys is as die Vrystaatse topleerder met spesiale onderwysbehoeftes.
Elke leerder, ook die toppresteerders, gaan deur die lewe met sy of haar eie skooluitdagings en skaduwees, sê Van Heerden. By Martie du Plessis word sukses aan ander maatstawwe as “gewone” skole gemeet. Elke keer wat ’n leerder nié moed opgee nie met dit wat vir hom of haar moeiliker is as vir ander, is ’n prestasie op sigself.
Izak van Heerden, trotse ontvanger van die trofee vir die Vrystaatse topleerder met spesiale onderwysbehoeftes. Foto verskaf
Onderwysers, ouers, medeleerders en Bloemfonteiners salueer die Martie du Plessis-matrikulante van 2023 en wens hulle voorspoed toe op hul toekomspad.