On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

R104 miljoen vir Sol Plaatje-waterkrisis is goeie nuus – met streng voorwaardes

───   12:02 Tue, 16 Jan 2024

R104 miljoen vir Sol Plaatje-waterkrisis is goeie nuus – met streng voorwaardes | News Article
Die beplande opgradering van Kimberley en omstreke se waterinfrastruktuur is goeie nuus.

“Dit sal ons in staat stel om inligting omtrent ons plan te deel en om aan alle belanghebbendes die uitwerking van die situasie op huishoudings sowel as besighede uiteen te sit.”

Die meer as R100 miljoen wat die Tesourie toegestaan het vir die opgradering van Kimberley en omstreke se waterinfrastruktuur is goeie nuus.

Dudley Dally, voorsitter van die Noord-Kaapse Kamer van Handel en Nywerheid, sê egter die bedrag is bloot die eerste paaiement van ’n R2,5 miljard-lening, wat aan streng vereistes onderworpe is. “As daar nie aan die vereistes voldoen word nie, het die nasionale regering die reg om die lening te herroep.”

 

Die R104 miljoen sal aangewend word vir probleme rakende installasies, herstelwerk by opgaardamme en veelvuldige pyplynlekkasies, met die hulp van deskundiges wat die munisipaliteit adviseer, sê Thabo Mothibi, Sol Plaatje-woordvoerder.

Hy maan wateronderbrekings kan tydens herstelwerk voorkom, maar dit sal beperk wees tot uiterste gevalle.

Teen die agtergrond van ontoereikende inligting en terugvoering, asook die aantal ondernemings wat weens die waterkrisis moes sluit, bevraagteken Dudley die munisipaliteit se vermoë om die daad by die woord te voeg. 

‘Ons doen alles in ons vermoë om die probleme op te los’

“Die burgemeester, Kagisho Sonyoni, het nie ’n vinger verroer om enige sakeonderneming te help nie… Daar is geen simpatie nie; hulle het nie ’n saak met die toenemende aantal besighede wat hul deure moes sluit nie,” sê hy.

Mothibi hoop om hierdie en ander uitdagings die hoof te bied met ’n aantal projekte, insluitend ’n strategiese werksessie binne die volgende twee weke. “Dit sal ons in staat stel om inligting omtrent ons plan te deel en om aan alle belanghebbendes die uitwerking van die situasie op huishoudings sowel as ondernemings uiteen te sit.”

Hy beskou die projek as die eerste tree op ’n lang reis. “Ons doen alles in ons vermoë om die huidige probleme op te los.”

OFM Nuus/Linette Retief cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.