On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

‘Flinkdink’ se Edwill sterf op 85

───   17:05 Thu, 04 Jan 2024

‘Flinkdink’ se Edwill sterf op 85 | News Article
Edwill van Aarde is Dinsdag oorlede.

“Hy het ons trots gemaak om in Afrikaans na hom te luister.”

“Edwill het ’n reuse-bydrae gelewer tot die uitsaaiwese in Afrikaans. Hy het ons trots gemaak om in Afrikaans na hom te luister.”

Só bring Centurion se ATKV-tak hulde aan Edwill van Aarde (85), omroeper en TV-aanbieder, wat Woensdagaand (3/1) oorlede is.

Hy sal veral onthou word vir sy aanbieding van die gewilde Flinkdink, ’n TV-vasvraprogram waarvan hy self die vrae nagevors en saamgestel het. Hy het dié program, wat deelnemers se algemene kennis getoets het, van 1976 tot 1986 aangebied.

Ouer TV-kykers onthou Edwill van Aarde as die aanbieder van die TV-vasvraprogram Flinkdink. 

Netwerk24 berig Van Aarde het die afgelope twee jaar algaande verswak. Volgens sy dogter, Antoinette van Aarde, is hy op 22 Desember, twee dae ná sy 85ste verjaarsdag, in ’n waakeenheid opgeneem. “Verlede week Donderdag het die dokters ons laat kom en gesê daar is nie meer hoop nie.”

Benewens Antoinette word hy oorleef deur sy vrou, Piena, sy seun, Cobus, ses kleinkinders en twee agterkleinkinders. Hy en Piena het in September hulle 60ste huweliksherdenking gevier.

Van Aarde is op 20 Desember 1938 in Kimberley gebore en het op Boetsap grootgeword, waarna hy in 1957 aan die Hoërskool Diamantveld gematrikuleer het.

Van Aarde het 85 geword op 20 Desember.

Hy het sy merk as sportkommentator gemaak en was die eerste Afrikaanse kommentator wat ’n TV-uitsending waargeneem het vanaf Lord’s, die “tuiste van krieket” in Londen. Hy het meer as 500 krieketwedstryde uitgesaai en nog 20 ander sportsoorte, waaronder rugby, die Comrades-marathon, Wimbledon-tennis en boks.

Hy het op talle terreine ’n groot bydrae gelewer tot die bevordering van Afrikaans, sê sy familie in ’n mediaverklaring, en het onder meer met die hulp van kykers Afrikaanse vertalings vir Engelse krieketterme geskep. 

“Keer op keer het hy en sy gretige medewerkers aan hierdie verruiming in Afrikaans met netjiese nuutskeppings vorendag gekom,” skryf die veteraankoerantman Hennie van Deventer op Facebook. “Ek dink vinnig aan die kieliehou, die slagysterposisie vlakvoor die kolwer en die onspeelbare goëlbal. Hoe’s daai vir jou – dis mos Afrikaans!”

Van links: Laurika Rauch, Edwill van Aarde, Cupido en Cora Marie in 1983. Foto: laurikarauch.com

Van Deventer sê kommentators werk deesdae in spanne en wissel mekaar gedurig af. “In die ou dae was dit egter ‘n solovlug. Soos ’n marathonhardloper eenvoudig net kon aanhou en aanhou draf, kon Edwill net aanhou en aanhou praat – keurig en korrek.

“Vir die krieketplesier wat daardie perfeksionis hierdie lewenslange entoesias besorg het, sal ek hom ewig dankbaar bly.”

‘Vereer vir sy bydrae tot die uitbou van Afrikaans’

As omroeper was hy veral bekend vir sy aanbieding van die gewilde musiekprogram Afrikaanse Treffers, waarvan hy meer as 900 aflewerings uitgesaai het. Van Deventer wonder of “Worsie Visser-aanhangers Edwill ooit vergewe het vir sy onwrikbare standpunt dat ‘Boesmanland, vat my hand’ nie vir insluiting … kwalifiseer nie. Dit was vir hom net nie goed genoeg nie en basta.”

Die ATKV het hom op 6 Mei 2005 saam met nog 57 mense vereer vir hul bydrae tot die uitbou van Afrikaans deurdat hy sy kennis op musiek-, sport- en taalgebied tot voordeel en bevordering van die taal aangewend het.

Hy en Piena het 50 jaar lank in dieselfde huis op Krugersdorp aan Gauteng se Wes-Rand gewoon.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.