On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Droeë krane stuur af op ’n menslike ramp op Winburg, Brandfort

───   KAREN VAN DER BERG 15:46 Mon, 04 Dec 2023

Droeë krane stuur af op ’n menslike ramp op Winburg, Brandfort | News Article
Foto: iStock

“Ons kan nie meer so aangaan nie. Dit is ’n ramp en ’n skending van ons menseregte. Om nie eens te praat van die humanitêre krisis wat ontvou nie.”

’n Humanitêre krisis dreig op Vrystaatse dorpe soos Brandfort, Theunissen, en Winburg wat reeds drie weke lank geen water het nie. Wanneer daar water is, is dit slegs ’n paar druppels vir ’n paar uur.

Inwoners is radeloos, angstig en desperaat en pleit by die plaaslike regering vir ingryping. OFM Nuus het op 24 November berig oor die waterkrisis, maar sedertdien het die situasie geensins verbeter nie.

‘n Winburgse inwoner, Michael Landsman, stigter van die plaaslike nieregeringsorganisasie Lesawell, sê hy doen stappe om die onuithoubare situasie voor die deur van elke belangrike rolspeler te lê. Hy het ’n petisie opgestel en dit word aan 17 regeringsamptenare gestuur, onder wie pres. Cyril Ramaphosa en Mxolisi Dukwana, Vrystaatse premier.

Groente en plante in Winburg vrek van die hitte en kan nie natgemaak word nie. Foto verskaf

“Ons kan nie meer so aangaan nie. Dit is ’n ramp en ’n skending van ons menseregte. Om nie eens te praat van die humanitêre krisis wat ontvou nie.”

Landsman sê omdat daar nie water is nie, kan behoorlike riolering nie plaasvind nie. “Dit het ’n afgryslike vlieëplaag begin.” Hy sê vlieë neem Winburg oor. Die omstandighede is uiters onhigiënies.

Soms het die laagliggende dele van die dorp darem water, maar elders is die krane deurentyd droog.

Hy sê die eerste petisie is al vier jaar gelede opgestel. Daarvan het tot vandag dadels gekom. ’n Jaar gelede het ’n afvaardiging van die parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge die dorp besoek. Hulle was diep teleurgesteld in wat hulle gesien het, maar dis hoe ver dit gekom het, vertel Landsman.

‘Landsman sê omdat nie water is nie, kan behoorlike riolering nie plaasvind’

Ook op Brandfort gaan dit beroerd, vertel Hannelie Kotzé, ’n inwoner. “Dit is so erg dat mense hier nie eens meer met ’n geruste hart vir hulle diere kan water gee nie, want jy moet kies of jou diere of jou gesin water het.”

Van die dorp se eens pragtige tuine het niks oorgebly nie, want die gras en plante vrek van die droogte en die laaste tyd se versengende hitte.

Sy sê die ergste is, met elke waterkrisis suig die munisipaliteit eenvoudig ’n ander verskoning uit die duim. “Eers is daar nie chemikalieë nie, dan kan water nie gepomp word nie omdat daar beurtkrag is, en dan is die pomp stukkend.”

‘Die gras en plante vrek van die droogte’

Sy sê al haar klagtes aan die kantoor van die burgemeester val op dowe ore. Wanneer sy ’n antwoord kry, word sy daarvan beskuldig dat sy die regering beledig. “Ek wil net weet, wie word verantwoordelik gehou vir die feit dat die regering nie hulle werk doen nie. Wie is die persoon wat weier om te werk?” wil sy weet.

OFM Nuus het navrae aan die munisipaliteit en die burgemeester, Dimakatso Modise, gestuur. Dit is gelees, maar nog nie beantwoord nie. Kommentaar sal bygewerk word as dit ontvang word.

OFM Nuus/Karen van der Berg Corné

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.