On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Hitte in Universitas-hospitaal laat dokters rooi sien

───   KAREN VAN DER BERG 11:50 Mon, 04 Dec 2023

Hitte in Universitas-hospitaal laat dokters rooi sien | News Article
Die hoë temperature in die hospitaalsale van Universitas maak dit ondraaglik. Foto verskaf

“Die temperature in sale wissel van 27,9 °C tot 32,7 °C.”

Stukkende lugverkoeling in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein maak dit ondraaglik vir pasiënte en personeel.

’n Dokter, wat uit vrees vir viktimisasie verkies om anoniem te bly, sê die probleem duur al byna twee jaar. Dit het ’n baie nadelige uitwerking op die werkvermoë van die personeel en alhoewel daar geen spesifieke bewyse van gevalle is nie, verhoog hoër temperature die risiko vir infeksies.

Die stukkende lugverkoeling in die Universitas-hospitaal. Foto verskaf

“Die hantering van probleme word ook belemmer omdat mense se geduld beproef word. Wat ontstellend is, is dat administratiewe personeel in betreklik gemaklike temperature op die eerste vloer werk. Maar die mense wat die kliniese werk moet doen, vergaan in die sale.”

Nog ’n groot bron van frustrasie is dat daar geen amptelike kommunikasie is oor wat aangaan nie.  “As ons enigsins protesteer word ons eenvoudig geviktimiseer.”

Die dokter het foto’s aan OFM Nuus verskaf waarin die temperatuur van verskillende sale geneem is. Die temperature wissel van 27,9 °C tot 32,7 °C.

Personeel van die Universitas-hospitaal vergaan van die hitte weens die stukkende lugverkoeling. Foto verskaf

Mondli Mvambi, Vrystaatse gesondheidswoordvoerder, sê opknappingswerk aan die hospitaal belemmer die lugversorging. As ’n voorsorgmaatreël is bykomende lugversorgers aangeskaf. “Die infeksiebeheer word steeds toegepas en is in ooreenstemming met die  standaarbedryfsprosedure.”

Mvambi sê die hospitaal se diens word nie hierdeur geraak nie en die hospitaal bestuur die situasie goed. Die dokter sê egter die hoë temperature in die sale is geneem met die bykomende lugverkoeling, wat beslis onvoldoende is.

Internasionale riglyne bepaal dat hospitaalsale se temperatuur tussen 20°C en 22°C moet wissel.

OFM Nuus/Karen van der Berg        Daphné/Corné


 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.