On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Sinnelose moord op weduwee skok inwoners van Hartbeesfontein

───   KAREN VAN DER BERG 08:27 Tue, 28 Nov 2023

Sinnelose moord op weduwee skok inwoners van Hartbeesfontein | News Article
Marilise Bosman. Foto: Facebook

“Sy was ’n ware liefdevolle en vriendelike mens. Sy was altyd dankbaar, veral oor haar dogter.”

Swart Vrydag het vir inwoners van Hartbeesfontein letterlik in ’n swart dag ontaard met die sinnelose moord op Marilise Bosman (39) by haar huis. Boonop is daar by nog twee huise ingebreek en inwoners beskou die gebeure as ’n aanval op die dorp. Bosman, ’n weduwee, en haar 15-jarige dogter, het alleen gebly. Haar man is sowat ’n jaar gelede dood.

Maritha Coetzee, ’n DA-raadslid hier, sê die moord het vroeg die oggend plaasgevind.  “Drie mans met klapmusse het by Bosman se huis ingebreek.” Die dogter het wakker geword toe sy glas hoor breek, en is kombuis toe om ’n mes te kry om haarself te beskerm. 

“Die inbrekers het op haar afgekom en haar gevra waar die kontant in die huis is.”  Hulle is daarna na haar ma se kamer toe en Bosman het wakker geword. Sy het vir haar dogter geskree om weg te hardloop. “Sy is toe noodlottig geskiet.”

Die dogter het na die bure toe gehardloop en is ongedeerd. Sy is nou in die sorg van haar grootouers in Klerksdorp. Bosman was ’n persoonlike assistant by die fabriek, Supa Ginja.

Marilise het vir haar dogter geskree om weg te hardloop. Foto: Marilise Bosman/Facebook

Coetzee sê die verdagtes het na bewering by nog twee huise ingebreek. Hulle is glo van Johannesburg. “Ons as die DA veroordeel die daad en dra ons medelye aan die familie oor,” sê Coetzee.

Charmaine Pretorius, een van Bosman se beste vriendinne, sê hulle harte is gebreek oor die wreedaardige daad en die feit dat die dogter nou sonder haar ma moet grootword. “Marilise is ’n held en het haar dogter se lewe gered deur te skree dat sy moet weghardloop.”

“Sy was ’n wonderlike mens en het my altyd ondersteun. Ek het haar en haar dogter so geniet.” Pretorius sê toe sy hoor Bosman is dood om haar dogter se lewe te red, het sy geweet dit is wat sy sou doen. “Haar dogter was haar alles. Sy sou gelukkig gewees het om te weet haar dogter is veilig.”

Bosman en haar 15-jarige dogter het alleen gebly. Foto: Marilise Bosman/Facebook

Francois Botha, wat saam met Bosman gewerk het en wat een van die eerste persone op die moordtoneel was, sê hy is verpletter.

“Daar is nie regte woorde in ’n tyd soos dié nie. Marilise was ’n wonderlike mens en het so hard gewerk om vir haar dogter ’n goeie lewe te gee.”

Botha sê so ’n mens kan nooit vervang word nie. “Sy was ’n ware liefdevolle en vriendelike mens. Sy was altyd dankbaar, veral oor haar  dogter.”

‘Sy was ’n ware liefdevolle en vriendelike mens’

• Marilise se begrafnis vind Donderdag, 30 November om 10:00 by die Christelike Vereniging van SA in Klerksdorp plaas. Die teraardebestelling is daarna in Roosheuwel begraafplaas.

• Phillip Djan (48) en Pascal Senayah (39) is Dinsdag (28/11) in Morokweng Village aangekeer en het Donderdag vlugtig voorgekom in die Hartbeesfontein-landdroshof op aanklagte van moord en huisbraak. Hulle bly in aanhouding tot hulle volgende hofverskyning op Dinsdag 12 Desember, berig Zenande Mpame.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.