On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Wêrelddiabetesdag: 12-jarige meisie van Vanderbijlpark se stryd

───   HEIDRÈ MALGAS 13:08 Tue, 14 Nov 2023

Wêrelddiabetesdag: 12-jarige meisie van Vanderbijlpark se stryd | News Article
Amore Swanepoel van Vanderbijlpark is 'n 12-jarige Tipe 1-diabeet. Foto verskaf

“Sy was aanhoudend dors, het baie geslaap, sy was moeg, en moes baie badkamer toe gaan.”

Wêrelddiabetesdag is die primêre wêreldwye bewusmakingsveldtog wat fokus op diabetes mellitus en word jaarliks op 14 November gehou.

Amore Swanepoel (12)  van Vanderbijlpark is die afgelope agt jaar 'n Tipe 1-diabeet. Haar ma, Sonika, sê diabetes is op 30 Oktober 2015 by haar gediagnoseer en sy moes dadelik insulien begin gebruik. Amore moet vyf keer per dag kortwerkend en langwerkend insulien kry.

"My ma het 'n seuntjie in die kleuterskool gehad wat 'n diabeet was en sy het Amore se tekens raakgesien. Sy was aanhoudend dors, het baie geslaap, sy was moeg en moes baie keer badkamer toe gaan, sê Swanepoel.

"Die oggend van 30 Oktober, voordat sy enigiets geëet of gedrink het, het ons haar suiker getoets en dit was 35,4. Ons is dadelik hospitaal toe en daar is sy op binneaarse medikasie geplaas en in die ICU opgeneem," sê Swanepoel.

Hoewel hulle nie mediese dekking het nie en op staatshospitale moes staatmaak, kan sy eerlik sê hulle het puik diens ontvang.

Amore Swanepoel (12) van Vanderbijlpark is 'n Tipe 1-diabeet. Hier is sy saam met haar ma, Sonika. Foto verskaf

"Met genade van Bo het ek baie geleer omdat haar pa ook 'n diabeet was. Dit het my bietjie meer gemaklik gemaak met haar. Haar pa is in September oorlede weens orgaanversaking," sê sy.

"Dit is moeilik sonder haar pa se finansiële hulp en die kos wat sy moet eet is ongelooflik duur, maar my motto is 'take it one day at a time'." 

Swanepoel sê haar kind is die sterkste meisie wat sy ken om al hierdie dinge elke dag deur te maak en elke emosie speel 'n rol. Hartseer, blydskap en kwaad wees, elk van hierdie emosies beïnvloed die suikertelling.

"Sy is vanjaar al vyf keer in die ICU opgeneem weens die puberteitsfase wat sy deurmaak, so daar is geen normaliteit vir 'n Tipe 1-diabeet nie, dis bitter hartseer."

OFM Nuus/Heidré Malgas Corné/Daphné

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.