Central SA
Inwoners van Heidedal ontevrede oor diens by polisiekantoor─── ZENANDE MPAME 15:57 Tue, 31 Oct 2023
“Ons wil ’n polisiekantoor hê wat respekvol en professioneel optree en die gemeenskap veilig hou.”
Inwoners van Heidedal het Sondag (29/10) die strate ingevaar omdat hulle ontevrede is met die werksaamhede van die Heidedal-polisiekantoor.
Shadrack Muishond, voorsitter van die inwonersvereniging in Heidedal, het ’n memorandum aan Arthur Adams, Mangaung-distrikskommissaris, gestuur en een oorhandig aan die stasiebevelvoerder.
“Om mee te begin, is die taal van kommunikasie ’n probleem want die polisiebeamptes kan óf nie die taal van die plaaslike gemeenskap praat nie óf hulle weier om dit te praat.”
Shadrack Muishond sê die gemeenskap het hul vertroue in die polisiekantoor in Heidedal verloor. Foto verskaf
Dit maak dit veral moeilik vir die bejaardes wat nie Engels of Sesotho kan praat nie om ’n klag aanhangig te maak, sê hy.
Die inwoners is ook baie bekommerd omdat daar nie teen die dwelmhandelaars in die omgewing opgetree word nie en dat dit misdaad en verslawing by die jeug aanmoedig.
Arthur Adams, Mangaung-distrikskommissaris, ontvang die memorandum. Foto: Facebook/My City Bloemfontein
“Nog 'n klagte was dat polisiebeamptes betrap is dat hulle by hul lessenaars geslaap het,” sê Rudi Maartens, DA-kandidaat van Wyk 47.
Muishond sê die gemeenskap wil hê die stasiebevelvoerder moet uit sy pos verwyder word want hy kan nie die polisiekantoor beheer nie. “As kandidaat vir die tussenverkiesing is dit natuurlik belangrik vir die gemeenskap om aan hulle te wys dat die DA luister en omgee vir hul probleme,” sê Maartens.
Inwoners dring aan dat die stasiebevelvoerder van sy pligte onthef word. Foto: Facebook/ My City Bloemfontein
Die gemeenskap het die polisiekantoor 14 dae gegee om op die memorandum te reageer.
Corné/Daphné/Morné