Central SA
Vasgekeerde gesin van Noordwes sterf in brand by skuiling─── 12:28 Tue, 31 Oct 2023
“Inwoners het probeer om die slot en die hek te breek, maar kon dit nie oopkry nie.”
Hulp stroom in uit talle oorde vir die inwoners van Purple Moss, ’n skuiling vir behoeftige mense naby Brits in Noordwes, waar ’n brand Sondagaand die lewe van ’n jong gesin van vyf geëis het en groot skade aan wooneenhede aangerig het.
Talle inwoners het persoonlike besittings verloor terwyl die skuiling se pakkamer, waar kosvoorraad geberg word, in puin gelê is.
JP Bingham (26), Esmé Labotske (25) en hul drie kinders, Benjamin (8), Mianique (3) en Luané (2), het omgekom in die brand toe hulle nie die sleutel vir hul wooneenheid se veiligheidshek kon opspoor nie, berig The Citizen.
Esmé Labotske en JP Bingham en hul drie kinders (insetsel), Luané, Benjamin en Mianique. Foto verskaf
‘Liefde en ondersteuning is hartverblydend’
Vaalweekblad berig dat Ella Lourens, VF Plus-raadslid van Brits, “sprakeloos” is oor die ondersteuning wat uit die gemeenskap ontvang is. “ ’n Onderneming het 15 tente geskenk en inwoners van die omgewing het onderneem om tydelike verblyf aan inwoners van Purple Moss te verskaf. Die Soetdoring-geleentheidsfonds sal help met die begrafnisreëlings van JP, Esmé en hul kinders.
“Buco het aangebied om die wooneenhede gratis te herstel, terwyl loodgieters aangebied het om die pype te herstel. Die liefde en ondersteuning van die gemeenskap is verstommend en hartverblydend.”
Die brand is deur die Hartbeespoort- noodmediese dienste en die Brits-brandweer geblus. Foto: Facebook/Hartbeespoort Emergency Medical Service
Beraders van die Christelik Maatskaplike Raad en Solidariteit Helpende Hand sal getraumatiseerde inwoners met berading bystaan. Inwoners het hulpeloos toegekyk hoe Benjamin (8) aan die veiligheidshek vasklou en om hulp skreeu voordat hy gesterf het, berig Netwerk24.
‘Dit was onbeskryflik aaklig’
“Inwoners het probeer om die slot en die hek te breek, maar kon dit nie oopkry nie. Dit was onbeskryflik aaklig,” het ’n verslae inwoner die volgende dag aan The Citizen gesê.
Esmé is gevind waar sy met een van haar dogters op haar skoot in die bad gesit het. JP was langs die bad en hul ander dogter was in ’n hoek opgekrul. Al vyf is deur die nooddienste op die toneel dood verklaar.
Die Hartbeespoort- noodmediese dienste en die Brits-brandweer het die brand, wat ook na vyf ander wooneenhede versprei het, geblus. Die brand het omstreeks 21:00 uitgebreek en is vermoedelik veroorsaak deur ’n kers wat tydens beurtkrag omgeval het.
Die Purple Moss-skuiling het 'n dringende beroep op die publiek gedoen vir skenkings van komberse, klere en kos. Bel Lourens by 064 664 2060 as jy kan help.
Purple Moss is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat huisvesting en kos aan sowat 60 hawelose mense op die perseel verskaf. Dit is 14 jaar gelede deur Petrus (Bossie) Boshoff begin.
OFM Nuus/Christine van der Westhuizen