Central SA
Nege kinders van Jan Kempdorp siek van aartappelskyfies─── HEIDRÈ MALGAS 09:18 Wed, 25 Oct 2023
“Die kinders is na die hospitaal geneem nadat hulle van maagkrampe en hoofpyn gekla het.”
Nege leerders van die Jan Kempdorp Primary School in die Noord-Kaap het siek geword nadat hulle aartappelskyfies geëet het wat hulle op pad skool toe gekoop het.
Geoffrey van der Merwe, Noord-Kaapse onderwyswoordvoerder, sê die departement is bewus van ’n moontlike geval van voedselvergiftiging by dié laerskool. “Die kinders is na die hospitaal geneem nadat hulle van maagkrampe en hoofpyn gekla het. Hulle is reeds ontslaan.”
‘Kyk na die produkte of verversings wat kinders eet en koop’
Die departement is tevrede met hoe die skool die voorval hanteer het en die ondersteuning van die streeksbestuurder, gesondheidsamptenare en die burgemeesterskantoor.
Van der Merwe doen ’n beroep op ouers en skoolgemeenskappe om te kyk na die produkte of verversings wat hul kinders eet en koop.
Florence Jantjies-Modiakgotla, skoolhoof, het in ’n brief aan die ouers bevestig die kinders het voedselvergifting opgedoen. “Ouers word aangeraai om eerder vir hul kinders verversings by Shoprite, OK of Checkers te koop.”