Central SA
Internasionale kunstenaar terug op Bloemfontein-verhoog─── ELSABÉ DE JAGER 10:09 Thu, 19 Oct 2023
![Internasionale kunstenaar terug op Bloemfontein-verhoog Internasionale kunstenaar terug op Bloemfontein-verhoog | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/7aebe22a-4a1e-46f4-b175-e4a794896282.jpg?crop=0,25,617,372)
Sy geniet die rustige lewe in haar groentetuine op Philippolis.
Nicolene Gibbons, bekroonde pianis en boorling van Bloemfontein, is vanaand terug op die verhoog van die Odeion op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV). Haar solokonsert vorm deel van die Vrystaat Klank & Klassik-reeks (VKK).
Ná die voltooiing van haar studie aan die UV en Universiteit van Kaapstad, vertrek Gibbons na Engeland waar sy ’n meestersgraad in klavieruitvoering aan die Royal College of Music in Londen behaal. Daarna volg ’n meestersgraad in komposisie aan die Universiteit van Cambridge. Later spesialiseer sy ook in kamermusiek en liederbegeleiding.
Ná byna 30 jaar as pianis, komponis en onderwyseres in Engeland, keer Gibbons in 2017 permanent terug na Suid-Afrika. Sy vestig haar op die klein Suid-Vrystaatse dorpie Philippolis, waar sy ook vanjaar met vier klassiekemusiekkonserte ’n groot rol speel in die dorp se 200ste verjaardagviering.
Die Odeionkonsertsaal is bekend vir sy uitsonderlike akoestiekgehalte. Foto: Facebook
Vir Gibbons is dit ’n vreugde om terug te wees in Suid-Afrika. Sy geniet die rustige lewe in haar groentetuin op Philippolis, terwyl sy steeds haar groot passie uitleef. Sy is orrelis op die dorp, maar pendel ook tussen die platteland en Bloemfontein, waar sy klavier aan die Odeion Musiekskool doseer.
Vanaand se program open met Grieg se Holberg Suite. Gibbons beskryf dié klavierweergawe as lighartig en delikaat. Beethoven se Appasionata wat daarna volg, is vol komplekse emosies, ’n uitdaging vir enige pianis, sê sy.
’n Hoogtepunt op die program van Klank & Klassik. Foto: Facebook
Die program word op ’n hoogtepunt afgesluit met die indrukwekkende werk “Reflections” van die Suid-Afrikaansgebore komponis Jacobus Kloppers. Dis ’n uitbeelding van die subjektiewe beeld wat die Suid-Afrikaner deur die jare, sedert die koms van Jan van Riebeeck van homself gehad het. Foto’s en video’s wat saamgestel is deur die fotograaf Felix Meyburgh word deurlopend in die uitvoering gebruik.